Herstel van Rooidam suid van Bfn goed op dreef

0
611
Die skoonmaak en rehabilitasie van Rooidam tussen Lourierpark en die Ferreira-gebied in die suide van Bloemfontein is goed op dreef. FOTO: Verskaf

“Terwyl die res van Mangaung wankel weens die gebrek aan dienslewering en finansiële beperkings, is daar ligbakens in die vorm van gemeenskapshelde wat ons hoop gee dat die toekoms blink kan wees as ons saamstaan.”

Dit is volgens die raadslid David Mc Kay wat maande lank al soek na ‘n manier om die indringer-waterhiasinte te verwyder en probeer om die onwettige storting by die Rooidam, tussen Lourierpark en die Ferreira-gebied, op te los.

“Een so ‘n mens is Louis Ferguson van Carp Tactical in Bloemfontein. Hy het my genader om te help met die rehabilitasie van Rooidam. Ek het natuurlik die geleentheid aangegryp en die aanbod met albei arms verwelkom. Ons is tans in die finale stadium om ‘n Memorandum van Verstandhouding te onderteken tussen die munisipaliteit en Carp Tactical om die park aan te neem. Louis en sy span het twee weke gelede begin en vorder goed,” sê Mc Kay.

Hy sê die doelwit van hierdie projek is om die riviermond te rehabiliteer na die pragtige, helder en skoon omgewing wat dit eens was. Die doel is ook om die indringer-waterhiasinte te verwyder en om die dam terug te kry na die gesinsvriendelike visvangplek wat dit voorheen was.

“Dit sal ook indirek bydra tot die visbedryf en die omgewingsestetika van Lourierpark. Dit sal ‘n skoon en veilige opelugarea wees wat almal kan geniet. ‘n Plek waar gesinne kan braai, visvang en ontspan,” sê hy.

“Om die rehabilitasie aan te help, sal ons nie-indringervisspesies weer in die dam inbring. Dit sal help om die natuurlike ekosisteem van die dam te hervestig,” voeg hy by.

Mc Kay erken dat dit maande se harde werk en toewyding sal verg en daarom sal enige vrywillige bystand van die gemeenskap waardeer word. “Ons beoog om die area skoon te hê en vir die publiek oop te stel teen November.”

Kontak Louis Ferguson by 082 810 4062 of David Mc Kay by 082 414 7491 om betrokke te raak.

Justine Fortuin
justine@mahareng.co.za