Herstel moeders se waarde in gemeenskap

0
798
Margaret Velerie Baatjies en Rashieda September. FOTO: Verskaf

Haar doelwit is om hierdie Moedersdag die waarde van moeders in Heidedal te herstel. “Ons is twee vrouens, myself en Rashieda September, wat besluit het om vir minderbevooregte moeders hierdie dag spesiaal te maak en om waarde te heg aan hulle persoonlikhede.

Soveel van hierdie moeders in ons gemeenskap het hul waardigheid verloor as gevolg van die situasie in hul huise en omgewing, soos drankmisbruik, mishandeling, werkloosheid en meer,” sê Margaret Velerie Baatjies.

Sy voeg by dat baie van hulle nie eens meer voel soos moeders nie en dit is hartseer as ’n moeder haar menswaardigheid verloor en nie waardeer word nie. Siende dat Baatjies self van Heidedal is, wil hulle moeders – veral in daardie minderbevooregte gedeeltes van Heidedal – weer gelukkig maak.

“Ons wil hulle net weer waardig laat voel en ons wil ook hierdie ‘n jaarlikse instelling maak vir Moedersdag,” sê sy.

Baatjies het aan Bloemfontein Courant gesê hulle het reeds mense uit die gemeenskap wat skenkings aan die projek gedoen het. “Ons wil net ons waardering en dank uitspreek aan almal wat ons help en bystaan in hierdie poging want ons wil dit regtig spesiaal maak vir hierdie moeders.”

As jy wil help om ‘n ma ekstra spesiaal te laat voel hierdie Moedersdag, kontak Margaret by 082448-9926.

Justine Fortuin
justine@mahareng.co.za