Die ondersoek na twee afsonderlike voorvalle waarin paramedici van die provinsiale ambulansdiens na bewering op twee ongelukstonele in Bloemfontein deur werknemers van insleepdienste aangerand is, is nou in die polisie se hande. Die gereg moet sy gang gaan. Dit volgens die provinsiale gesondheidsdepartement se Mondli Mvambi nadat Bloemfontein Courant verlede week verwys het na voorvalle in Heidedal en langs die N8. Mvambi het uitgevaar teen “sommige insleepdienste” wat provinsiale nood-dienspersoneel op ongelukstonele tot die uiterste beproef.
Intussen het verskeie insleepdienste hul misnoeë uitgespreek oor Mvambi se uitlating. Hulle meen daar is baie insleepdienste wat hul goed van hul taak kwyt. Justice Williamson, eienaar van JJ Motors, sê daar is baie insleepdienste wat nie by “dié onsin” betrokke is nie en alle insleepdienste moet nie oor dieselfde kam geskeer word nie.
Riaan du Plessis, eienaar van Astrix Insleepdiens, verwelkom die departement se ondersoek na die twee voorvalle. Hy meen nie al die insleepdienste is korrup en “aasvoëls” nie. Du Plessis stel voor mense beskerm hulself teen opdringerige insleepdienste deur, indien moontlik, self op ‘n ongelukstoneel, ‘n verwysingsnommer van hul versekeringsmaatskappy te kry. “Dit moet nie aan ‘n insleepdiens oorgelaat word nie.” Hy sê wanneer ‘n werknemer van ‘n insleepdiens aanvoer hy het reeds van die versekering opdrag ontvang, moet die klient die “bestelnommer” by die insleepdienskontrakteur kry. Daarna moet die kliënt die nommers vergelyk asook die insleepdiens bevestig. Hy sê mense sonder versekering moet, indien moontlik, insleepdienste nagaan en hulle daarvan weerhou om die eerste en beste te gebruik. Dit is in sommige situasies moeilik omdat mense aan skok ly, maar hulle moet kophou.
‘n Werknemer van Astra Insleepdiens, Chris Snyman, sê geweld onder werknemers van insleepdienste in die stad neem toe. Hy wys die vinger na ‘n spesifieke plaaslike insleepdiens se barbaarse optrede. Volgens hom raak werknemers van dié insleepdiens handgemeen, dreig, vloek en skel werknemers van ander insleepdienste. Snyman sê hy het in 2013 by ‘n ongelukstoneel aangekom en is deur werknemers van dié spesifieke insleepdiens getakel. Hy is in hegtenis geneem vir aanranding, aangehou vir ‘n naweek en eers die Maandag vrygelaat. “Niks het verder daarvan gekom nie.” Hy meen dié betrokke insleepdiens is kop in een mus met polisielede, wat wenke oor ongelukke aan hulle deurgee. “Polisiebeamptes moet hul distansieer van insleepdienste se optrede op ongelukstonele en hul werk doen.” Hy moedig mense ook aan om te wag vir die insleepdienste wat deur die versekeringsmaatskappy uitgestuur word, want hulle maak net van hul ingekontrakteerde insleepdienste gebruik en nie van enige subkontrakteurs nie. Hy waarsku mense om nie van onidentifiseerbare insleepdienste gebruik te maak nie.
Steyn Wepener, eienaar van Cobra, sê geen werknemer van sy insleepdiens was betrokke by die eerste voorval op die N8 nie. Hy sê hy maak gebruik van subkontrakteurs en sy voertuie is duidelik gemerk. Hy het reeds regstappe teen betrokkenes gedoen, wat vals aantygings teen Cobra gemaak het.
Lede van die publiek wat oor insleepdienste wil kla, kan die United Towing Association of South Africa (Utasa) kontak. –Â Christal-lize Muller
christal-lize@centralmediagroup.co.za
Date:
Herrie oor insleepdienste lank nie verby
Herrie oor insleepdienste lank nie verby