Hermien Dommisse se lewe in Bloem gevier

0
3029

Die viering van die teaterlegende dr. Hermien McCaul Dommisse (1915 – 2010) se eeujaar begin amptelik eerskomende Saterdagaand om 18:00 in NALN wanneer haar oudste dogter, Jeanne McCaul, uit Frankryk hier is om NALN se Hermien Dommisse 100-huldigingsuitstalling te open. Vir dié uitstalling word daar ryklik geput uit Dommisse se ryk nagelate teaterversameling wat in NALN bewaar word en nog nooit aan die publiek vertoon is nie.

McCaul, voorheen bekend as Jeanne Coetzer, het self ‘n teateragtergrond en was in die beginjare van TV in Suid-Afrika ‘n alombekende gesig op die skerm. Sy woon sedert 1981 in Frankryk. Sy het belangrike insette tot die ontwikkeling van die uitstalling gelewer en sal haar ma se sonderlinge bydrae toelig.

Dommisse se ander kinders en familielede sal ook die geleentheid bywoon. Persoonlike herinneringe aan hierdie doyenne van Suid-Afrikaanse teater sal deur talle ander teaterpersoonlikhede gedeel word.

Sedert Dommisse in die laat-twintigerjare as eerstejaarstudent aan die Universiteit van Pretoria ‘n persoonlike afspraak met die eerste minister afgedwing het om te praat oor haar droom van ‘n loopbaan in toneel en te pleit vir ‘n "nasionale toneel" vir Suid-Afrika, tot sy op 89-jarige ouderdom waarskynlik die oudste aktrise ter wêreld was wat ‘n vaste rol in ‘n TV-sepie vertolk het (die matriarg Monica Vorster in Egoli), was sy ‘n formidabele krag.

Vrou-alleen het sy in byna elke moontlike hoedanigheid ‘n onwegdenkbare rol gespeel in die vorming van ‘n teaterkultuur wat betref toneel, ballet en opera. Suid-Afrika is daarvoor aan erkenning verskuldig, en NALN, waar haar nalatenskap bewaar word, het die inisiatief daartoe geneem.

Die uitstalling is die grootste wat NALN in die afgelope jare onderneem het. Die kern daarvan sal na verwagting later vanjaar ook by ‘n huldigingsgeleentheid in Johannesburg vertoon word.

Alle belangstellendes is welkom. Toegang is gratis. Sjerrie kan vooraf geniet word (18:00 vir 18:30).Vir verdere besonderhede skakel Otto Liebenberg, kurator van NALN, by 051-405-4013, 084-621-7350 of ojlnaln@sacr.fs.go.za.