HemelBesem skiet nuwe video in Heidedal

0
792
HemelBesem tussen n klomp kinders tydens die verfilming van sy jongste musiekvideo.

Hy is nie net ‘n bekroonde rapper nie, maar gebruik ook sy profiel om bewusmaking oor verskillende kwessies in Suid-Afrika te skep, terwyl hy help met die opheffing van gemeenskappe.
Die gewilde Pasella-aanbieder, skrywer, aktivis, rapper, digter, opvoeder, motiveringspreker en vermaaklikheidspersoonlikheid, HemelBesem, was onlangs te sien in Heidedal, Bloemfontein, vir ‘n baie spesiale rede.
Gebore Simon Witbooi, het HemelBesem, wat bekendstaan as die hardwerkende Suid-Afrikaanse Afrikaanse hiphopkunstenaar, onlangs sy nuwe musiekvideo in Heidedal, in samewerking met Just Faith Productions, geskiet. Die musiekvideo van sy nuwe liedjie, The Happy Song, is geskiet en gerig deur Vincent “Chicco” de Koker van Heidedal. De Koker, wat ‘n gevestigde akteur is, het die musikant by die Vrystaat Kunstefees ontmoet en beskryf hom as ‘n mense-mens. “Die musiekvideo het afgespeel in Heidedal en met mense van Heidedal,” vertel De Koker. “Die Happy Song het ‘n baie sterk boodskap en Heidedal was die perfekte plek vir die musiekvideo. Dit was Just Faith Productions se eerste musiek video en ‘n voorreg om met so groot naam in die bedryf af te skop,” sê De Koker.
De Koker en sy span het die video binne ‘n dag geskiet. Dit speel af in vyf verskillende plekke in Heidedal. “Wat vir ons as ‘n span uitstaan, is die ongelooflike terugvoering wat ons van die gemeenskap af gekry het, asook die ondersteuning.”
HemelBesem se nuwe video sal op 1 September 2018 op kykNET wys.

PIERCE VAN HEERDEN
pierce@mahareng.co.za