Help só om Huistoe Animal Welfare se 10 jaar te vier

0
318
Huistoe Animal Welfare kan meer doen as hulle meer hulp van die gemeenskap kry. FOTO: VERSKAF

As mense dink dat dit net hulle is wat sonder elektrisiteit sukkel, moet hulle weer dink – diere ly ook daar onder.

Volgens een van die stigters van Huistoe Animal Welfare, Tanya Badenhorst, was dié welsynsorganisasie vir diere verlede week 48 uur sonder elektrisiteit as gevolg van die reën en sterk wind.

Sy sê omdat hulle in die donkerte gedompel was, kon hulle geen plasings van diere doen nie en daar was ook geen hulp vir die diere wat in nood was nie. “Ons het nou nog nie ingehaal wat ons verloor het oor die naweek nie en dan stroom navrae steeds in. Krag is intussen herstel maar ons het twee diere in nood verloor,” het sy verduidelik.

Sy voeg by dat die gemeenskap die welsynsorganisasie kan help met donasies. “Slegs met die hulp van die gemeenskap kan ons uitreik na meer diere in nood. Maande gaan verby wat ons Huistoe as enigste broodwinners moet dra, maar dis ons keuse om die welsyn van diere eerste te stel – sonder hulp kan ons egter nie voortbestaan nie. Ons het mense nodig om ons te help met projekte wat ons kan aanpak om fondse te genereer. Die behoefte daarbuite, wat diere aanbetref, is groot – diere kry swaar en ons kan net soveel vermag met dit wat ons het.”

Hulle help tot sover as Douglas, Kimberley, en Dealesville. “Ons het nie tans ’n voertuig waarmee ons kan ry om hulp aan te bied nie, maar ons het ondersteuners wat dikwels hiermee help.”

Huistoe Animal Welfare vier hierdie maand die tiende bestaansjaar en is gestig duer Lientjie de Klerk, Dorothy Swanepoel en Tanya Badenhorst – almal met ’n passie vir diere. Hulle hoop om ’n stem te wees vir dié wat nie kan praat nie.

“Ons weet ons kan nie die wêreld verander nie, maar vir ’n handjievol diere kan ons die wêreld beteken.”

Indien jy dieselfde gevoel en liefde vir diere deel en ‘n helpende hand wil uitreik, kontak Tanya by 082-090-7647 vir meer inligting.

Gypseenia Lion
gypseenia@mahareng.co.za