Help jong moeders pleit regter Hancke

0
Help jong moeders pleit regter Hancke

Owen Kock

Emosionele onstabiliteit by jong moeders is een van die grootste oorsake waarom hulle pasgebore babas vir dood agterlaat. Hulle het die hulp van die breë gemeenskap en gespesialiseerde dienste nodig. Dis die mening en terselfdertyd ook ‘n pleidooi van regter Faan Hancke van die Bloemfonteinse Hooggeregshof. Hy het tydens Nicro Vrystaat/Noord-Kaap se dialoog oor ouers wat kinders agterlaat gesê sulke sake kom dikwels voor die hof.

“Die moeders gaan deur ‘n staat van depressie, wat eintlik iets vir die sielkundiges is, en as gevolg van die depressie raak hulle só ongebalanseerd dat hulle die kind doodmaak. “Die howe is baie simpatiek tot ‘n mate. Aan die een kant is dit wel ‘n gruwelike daad wat gepleeg word en gewoonlik word ‘n opgeskorte vonnis opgelê. Die belangrike ding is dat daar sekere voorwaardes geheg moet word aan die vonnisse, soos byvoorbeeld dat hulle gemeenskapsdiens of lewensvaardigheidskursusse volg en dat hulle gemonitor word.

“Dis eintlik siek moeders waarmee mens te doen het en daarom het hulle die ondersteuning van die gemeenskap en gespesialiseerde dienste nodig. Jong moeders en vaders moet bygestaan word en hulle moet weet wat dit verg om ouers te wees,” het Hancke gesê. Die gevalle waar verlate babas gevind word is egter nie so erg soos in Gauteng nie. In Bloemfontein is drie sake vanjaar aangemeld teenoor die 200 wat op ‘n maandelikse basis in Gauteng aangemeld word en waarvan slegs 16 babas lewend gevind word.

Nog een van die hoofredes volgens ‘n studie in Augustus verlede jaar, is dat moeders wat in armoede en met MIV leef, gewoonlik hul babas weggooi. ‘n Totaal van 44.5% van babas word volgens die studie weens seksusele mishandeling afgeskeep. Volgens kaptein Abe Cilliers van die Parkweg-polisiestasie wat gemoeid is met gesinsgeweld, kindermishandeling en seksuele misdrywe, is die gebied wat hy bedien (Parkweg, Navalsig, Bayswater, Tierpoort en Bainsvlei), nie so ‘n groot probleem as wat elders die geval is nie.
“Ek wil net opmerk dat ons nét met babas wat lewend gevind word werk. Waar ‘n kind reeds gesterf het werk ‘n geregtelike ondersoekeenheid met die betrokke saak. In ons gebied is dit nie so ‘n groot probleem nie, maar ek weet dat daar in ander gebiede waar die sosio-ekonomiese status van ‘n laer aard is, wel ‘n groter probleem is,” het Cilliers bygevoeg.

Hy glo daar is heelwaarskynlik tóg gevalle wat nie by die polisie aangemeld word nie, veral as daar gekyk word na gevalle waarmee hulle te doen gekry het waar babas van tyd tot tyd toegedraai in swart sakke in vullisdromme gevind is. Hy meen dit is moontlik dat van die babas op so ‘n manier op vullishope beland. Hy was egter verlig om te kon sê dat dit nog nie ongekende afmetings aangeneem het nie en in sy gebied onder beheer is. Dit is wel ‘n probleem waaraan almal, nie net die polisie nie, aandag behoort te gee.

owen@centralmediagroup.co.za

No posts to display