Heldin reik na haar droom

0
1662
Liandi Steyn het op 10 November deelgeneem aan die Telkom 947-bergfietsuitdaging om geld in te samel vir Reach For A Dream

Baie kinders droom oor ‘n besoek aan Disneyland, oor ‘n helikopterrit of selfs net om te kan fietsry, maar ‘n jong meisie van Kimberley se droom was om geld in te samel sodat die drome van ander kinders bewaarheid kon word.

Dit was die doel wat die 16-jarige Liandi Steyn vir haarself gestel het en wat sy bereik het toe sy deelgeneem het aan die Telkom 947-bergfietsuitdaging ten spyte daarvan dat sy aan ‘n ernstige siekte ly.

Steyn is soos n heldin verwelkom toe sy die eindstreep bereik het tydens die Telkom 947-bergfietsuitdaging. Van links is Liandi Steyn en Sandra Basson

Steyn het R5 000 vir die Reach For A Dream Foundation ingesamel toe sy 8 km van die bergfietsuitdaging vroeër hierdie maand voltooi het. Dié jong meisie was die week voor die fietsrit siek en genoodsaak om deel te neem met haar suurstoftenk as deel van haar uitrusting. Sy ly aan *Dysautonomia sowel as verlengdetermyn QT-sindroom, ‘n hartritmetoestand wat kan aanleiding gee tot onreëlmatige hartklop, onverwagse floutes of toevalle.

Sandra Basson van Reach For A Dream was een van die mense wat Steyn regdeur die resies vergesel het. “Sy het elke minuut van die resies geniet. Ons het haar heeltyd deur die fietsrit met waterpistole natgespuit om haar liggaamstemperatuur te verlaag aangesien dit ‘n baie warm dag was en haar liggaam weens haar siekte nie vanself temperatuur kan reguleer nie,” vertel Basson. “Toe sy klaar was, is sy soos ‘n heldin verwelkom en het almal vir haar hande geklap en haar toegejuig. Die hele span wat saam met haar gery het, se harte het oorgeloop van emosie,” het Basson bygevoeg.

Steyn het deurgedruk ten spyte van haar siektetoestand

Die organisasie vier hierdie jaar sy 30ste bestaansjaar en het deur die jare ontelbare drome van terminaal siek kinders waar gemaak. Steyn het ‘n ambassadeur geword van Reach For A Dream se Bloemfontein-tak. “Sy is so ‘n inspirasie. Selfs terwyl sy elke dag veg vir haar eie lewe, wil sy steeds ander help,” sê Basson.

Die jong vegtertjie wil graag ‘n neurochirurg word wanneer sy groot is sodat sy ‘n kuur vir haar siekte kan vind. Sy glo daarin om haar droom te volg ten spyte van die uitdagings wat sy in haar jong lewe moes trotseer “Ek is nie bang om dood te gaan nie. Ek wil ook nie in ‘n glaskas lewe nie. Ek kies om te lewe omdat ek ‘n verskil in die wêreld wil maak. Ek mag nie baie ty door hê nie, maar ek kan ‘n voetspoor agter laat,” sê Steyn.

Liandi Steyn het op 10 November deelgeneem aan die Telkom 947-bergfietsuitdaging om geld in te samel vir Reach For A Dream.

Steyn het deurgedruk ten spite van haar siektetoestand.

Steyn is soos ‘n heldin verwelkom toe sy die eindstreep bereik het tydens die Telkom 947-bergfietsuitdaging. Van links is Liandi Steyn and Sandra Basson.

Nomaqhawe Mtebele
nomaqhawe@mahareng.co.za