Hein Jacob stel eerste EP vry

0
413
Sanger, liedjieskrywer en kontemporêre folk-kunstenaar, Hein Jacob

Sanger, liedjieskrywer en kontemporêre folk-kunstenaar, Hein Jacob, is welbekend vir sy oorspronklikheid en sy sterk, dogmatiese en uiters betekenisvolle lirieke wanneer dit by sy musiekstyl kom. Hy beplan om aan te hou om ander deur sy musiek te inspireer om hul drome na te volg.

Jacob het sy hart op musiek verloor op jong ouderdom. Hy het klassiekekitaarlesse as vak geneem in graad 6 en dit het onmiddellik deel geword van genotvolle jare in sy skoolloopbaan.

“Dit was eers toe ek my eie musiek as meganisme om my depressie in my hoërskooljare te hanteer, begin skryf het, dat die gogga my gebyt het. Ek vind die kreatiewe proses uiters bevredigend,” vertel hy.

Jacob het sy eerste EP, getiteld “In the making” hierdie jaar vrygestel. Volgens hom was dit ‘n taamlik gewigtige taak om slegs vyf liedjies uit al sy liedjies te kies. Hy beskryf die EP as “lewendig en positief” aangesien hy en sy vervaardiger besluit het om meer kommersieel klinkende musiek op te neem.

“Ek sien myself meer as ‘n kunstenaar wat musiek opneem as iemand wat lewend optree, maar die tyd sal leer,” sê Jacob.

Die 33-jarige kunstenaar, wat in Graaff-Reinet gebore is, woon vir die afgelope vier jaar in Bloemfontein. Jacob is op die oomblik besig om sy meestersgraad in psigiatrie aan die Universiteit van die Vrystaat te voltooi. Sy EP, “In the making”, is beskikbaar op alle digitale platforms. Vir meer inligting, besoek sy Facebook-blad of Instagram by Hein Jacob.

PIERCE VAN HEERDEN
pierce@mahareng.co.za