Heidedallers wys hulle staan saam

0
1427
Die Billy Murison-stadion was een van die besprekingspunte op 'n gemeenskapsvergadering wat onlangs in Heidedal gehou is. FOTO: SEITHATI SEMENKOANE

Tydens ‘n gemeenskapsvergadering wat op 18 Mei in Heidedal gehou is en deur 14 mense bygewoon is, is daar talle probleme bespreek wat vir inwoners ‘n bron van kommer is.
Die nuwe Billy Murison-sokkerveld, is vir inwoners ‘n groot probleem. Heidedallers noem dit ‘street soccer’ wanneer spelers aantrek wat hulle wil, op die veld rook en drink en vele ander dinge aanvang wat nie by sport pas nie. ‘n Dame is genader om sokkerdrag te maak wat geleenthid sal gee om mense in diens te neem.
Die oop stuk grond waar mense hul rommel eenvoudig neergooi is ook ‘n kopseer vir inwoners. ‘n Karwas, wat deur twee vroue bestuur sal word, word beplan vir dié gebied. Dit sal ook vir mense ‘n werksgeleentheid skep.
David Beck, een van die persone aan die voorpunt van die byeenkoms, het gesê, “Die groot doel is om mense se gedagtes te verander.”
Volgens hom sit die jeug van Heidedal op straathoeke en hou hul besig met onheilige dinge. Hulle moet gestimuleer word deur te werk en van die negatiewe te vergeet.
Op die vergadering is ook gekyk na die behoefte aan ‘n lokaal waar die jeug opgelei kan word in hul belangstellingsveld. Dit moet ‘n wye verskeidenheid soos sokker, krieket, tennis, boks, sweiswerk en naaldwerk kan akkommodeer. “Dit gaan tyd en opoffering neem, maar dit gaan die moeite werd wees,” meen Bennie Buffel. Verskeie lokale in Heidedal word nie gebruik nie. Een van dié lokale is die gemeenskapsaal wat al jare leegstaan. As die lede net van die saal gebruik kan maak, sal dit klaar ‘n positiewe punt wees. “Dit sal net ‘n druppel in die emmer wees, maar elke bietjie maak ‘n verskil,” meen Beck.
Baie inwoners voel dat die meerderheid van Heidedal se jeug die pad byster is. Hulle steel, verkrag en misbruik dwelms en drank. Die lede wil voorkom dat jongmense van die gemeenskap nie eendag in tronke sit of dat hulle nie kos op hul en hul families se tafel kan sit nie.
“Van hier af gaan ons saam die inwoners die pad vorentoe stap,” het Buffel bevestig. – Jeretha Oosthuizen
jeretha@mahareng.co.za