VIDEO: Heidedallers desperaat vir beter sekuriteit by steengroef

0
5494
Elizabeth Stilo by die Corona­tion-steengroef in Heidedal. FOTO: MARK STEENBOK

“Hoeveel lewens moet nog verlore gaan voordat iemand iets aan die saak doen?”
So vra ‘n ma en inwoner van die Heidedal-gemeenskap, Elizabeth Stilo, ná die tragiese verdrinking van nog ‘n tiener by die berugte watergat van die Corona­tion-steengroef.
Die ouers van die 16-jarige Justin Jacobs van die Hoërskool Heatherdale moes op
15 Februarie hulpeloos toekyk hoe sy lewelose lyk deur polisieduikers uit die steengroef gehaal word.
Justin en sy vriende het die vorige Donderdag by die steengroef gaan swem toe die insident plaasgevind het. Sy familie is egter eers die Maandag voordat die saak by die polisie aangemeld is, daaroor ingelig.

Die Corona­tion-steengroef is maklik toeganklik vir die publiek.
Die Corona­tion-steengroef is maklik toeganklik vir die publiek.

Volgens Stilo, wat intussen die Facebook-groep getiteld Denamitegatmustfall Heidedal, gestig het om bewusmaking oor die gat te skep, is Heidedallers raadop. “Hierdie gebied kan op ‘n baie positiewe manier aangewend word. Ongelukkig is dit tans ‘n doodstrik. Die kinders kom vrylik hiernatoe en kom swem. Ouers kan nie 24 uur per dag ‘n oog oor hul kinders hou nie. Ek sal nie rus voordat drastiese veiligheidsmaatreëls geïmplementeer word nie. Ek was self hier toe Justin se lyk uitgetrek is. Dit was ‘n baie traumatiese ervaring.”
‘n Mede-Heidedaller, Gregory Werner, sê mense en kinders word statistieke in die steengroef. “Dit is regtig skrikwekkend om te sien dat daar niks gedoen word nie. Selfs ná Justin se dood. My vriend, Damian Meintjies, is al in 1996 uit daardie steengroef uitgetrek. As tjokkertjie het ek self daar gaan speel. Ons trek nou by 2016. Ek het nie amptelike statistieke nie, maar ek ken ten minste ses families van wie iemand al hier verdrink het.”
Hy sê: “Dis skokkend dat departemente soos met die Lily-mynramp in Barberton, Mpumalanga, so vinnig kan optree om families by te staan. Heidedal se mense is kwaad. Is ons mense se lewens dan nie belangrik nie?”

IMG_7136 (2)
Elizabeth Stilo wys waar Justin Jacobs verdrink het.

‘n Jaar gelede het Courant berig oor ‘n soortgelyke tragedie wat die Singer-familie getref het. Die 17-jarige Attie Singer het toe ook sy lewe in die steengroef verloor. Werner sê die gemeenskaplede het reeds ‘n petisie aan die minister van minerale bronne, Mosebenzi Zwane, gestuur waarin hulle vra dat die veiligheidsmaatreëls by die steengroef opgeskerp word. “Die eienaars van die grond moet verantwoordelikheid neem, of verantwoordelik gehou word. As jy na die lugfoto’s kyk, is daar baie water in daardie gat. Dit het net groter en groter geword. Hier sal daadwerklik ‘n omgewingstudie gedoen moet word sodat gemeenskapslede weet watter gevare hierdie steengroef inhou.
“Ons wag nou vir terugvoer van die minister se kantore (petisie). Daar is mynwetgewing wat die mense beskerm; ons moet die stemme wees vir diegene wat nie ingelig is oor die wet nie. Maak daardie steengroef veiliger. Ons kan nie bekostig dat nog kinders hul lewens verloor nie. Hoe gaan jy voel as dit met jou moet gebeur?
‘n Adjunk-direkteur van die Department van Minerale Bronne, Khathutshelo
Madau, het verlede Dinsdag die steengroef besoek en gesê die gebied hou beslis ‘n gevaar vir die gemeenskap in,” sê Werner.
Die Mangaung-metro-munisipaliteit se hoofbestuurder: kommunikasie, kon ná twee weke nog nie antwoorde verskaf op Courant se navrae oor die veiligheidsmaatreëls by die watergat nie.

IMG_7146
Corona­tion-steengroef

Polisiewoordvoerder Ikohobeng Hlubi sê op sy beurt dat ‘n geregtelike doodsondersoek volg ná die verdrinking van Justin Jacobs en die kwessie word ondersoek.
Toe Courant die steengroef besoek het, was dit duidelik dat daar geen omheining, sekuriteitswagte of enige veiligheidstekens naby die groef is nie.
Justin Jacobs is Saterdag ter ruste gelê.
Qondile Khedama, woordvoerder van die Mangaung-metro-munisipaliteit, het nog nie kommentaar oor die steengroef gelewer nie. – MARK STEENBOK
mark@centralmediagroup.co.za

Kliek hier vir beeldmateriaal: