E Copy

Date:

Heidedaller wil dwelmprobleem trompop loop

Dwelmverslaafdes is die selfsugtigste mense op aarde. Hulle sal lieg en bedrieg net om die volgende "fix" te kry. Só meen Leon Solomons (48), 'n gerehabiliteerde dwelmverslaafde wat sedert sy hoërskooldae in 'n dwelmweb vasgevang is.
Vandag beywer hy hom om ondersteuning te bied aan ander wat, soos hy, met verslawing sukkel. Hy meen hy het finaal tot sy sinne gekom toe hy ná twee vorige terugslae weer ernstig dwelms begin gebruik het. "Ek het eendag in die badkamer van my werkgewer gesit en dwelms gebruik. Terwyl ek daar op die grond sit, was dit asof ek myself vir die eerste keer van buite kon sien. Ek het vir myself gesê: 'Leon, jy speel met vuur. Jy het só baie om te verloor.' Ek het 'n vrou wat, ten spyte van my probleme, jare lank by my gestaan het, skoonouers wat altyd bereid was om my nóg 'n kans te gee, my kinders en kleinkinders vir wie ek veronderstel was om 'n rolmodel te wees," vertel Solomons waar hy in die einste werkgewer se kantore met Courant gesels.
"Niemand wil so leef nie. Dwelms lei tot 'n algehele verval van die self. Jy gee nie om nie. Jy lyk sleg. Jy slaap enige plek waar jy jou kop kan neerlê. Maak nie saak watse wrak daar in werklikheid voor jou in die spieël staan nie, jy kan dit nie sien nie. Al wat belangrik is, is waar en hoe jy jou volgende dwelms gaan kry."
Solomons, 'n gebore en getoë Heidedaller, meen daar is ouers in die gemeenskap wat sien hul kinders is besig met verkeerde goed, maar verkies om dit nie te glo nie. "Dwelms is 'n enorme probleem in Heidedal en mense moet verstaan charity begins at home. As 'n ouer of 'n vriend vermoed dat iemand 'n dwelmverslaafde is, moet hulle hulp gaan soek."
Solomons voeg by, een van die groot euwels van ons tyd is geld. Deur vir 'n dwelmverslaafde geld te gee bemagtig jy hom op die verkeerde manier. "Ek het myself uit my besigheid en drie motors 'gerook'. Almal weet waar dwelms vryelik in Heidedal beskikbaar is – selfs die polisie – maar steeds kan die probleem nie bekamp word nie. Dit het tyd geword dat gemeenskapsleiers hande vat en Heidedal se strate weer veilig maak."
Juis met hierdie gesindheid het Solomons met die hulp van sy skoonpa, pastoor Clement Marais van die Heidedal Christian Centre, onder die vaandel van die kerk die ondersteuningsgroep, Dare to care – Dare to believe, op die been gebring. "Ja, dit is nodig om professionele hulp in te roep as jy as dwelmverslaafde wil rehabiliteer, maar waarheen gaan jy as die versoeking aan jou deur klop? By hierdie groep verstaan ons waardeur mense gaan en met hulp en krag van Bo kan ons mekaar ondersteun."
Die groep het tans sowat 20 aktiewe lede en hoop om hierdeur mense se waardigheid te probeer opbou. Sy groot doel is om verslaafdes te help om weer 'n diens aan die gemeenskap te lewer en terug te keer na die arbeidsmark. "Om 'n verslaafde te wees is baie eensaam – jy verstoot selfs die mense wat jou die liefste het." – Maricelle Botha
maricelle@centralmediagroup.co.za

News you can use

Dare to care – Dare to believe kom elke Donderdag om 18:30 by die koshuis van Dr. Blok Hoërskool
bymekaar. Almal is welkom. Kontak Solomons by 073-449-6958 of pastoor Clement Marais by 073-182-
3229 vir meer inligting rakende dié ondersteuningsgroep.

 

Share post:

Popular

More like this
Related

Sudan Lions thriving at LIONSROCK Sanctuary one year after rescue

Just over a year after their rescue from a...

Mangaung’s green jobs initiative empowers over 700 residents through presidential stimulus

Over 700 participants have been deployed across Mangaung’s towns...

Bloem’s pet shops compliant, SPCA still recommends adopting

The Bloemfontein Society for the Prevention of Cruelty to...

‘Ontwikkel weer ’n trots vir Afrikaans’

Afrikaans, soos alle tale, het oor tyd ’n massiewe...