Heidedaller wag 4 jaar vir ‘n huis

0
117
Solomon Olifant FOTO: ZILKE PRINSLOO

Solomon Olifant (72), beter bekend as Ghost onder die inwoners van Heidedal, is baie ongelukkig omdat hy al ongeveer vier jaar wag vir sy huis om oorgebou te word.

Hy sê dat sy huis al vir jare bouvallig is en hy verwag enige oomblik dat die mure inmekaar kan val. Lede van die ANC-tak in Heidedal het na sy huis kom kyk en foto’s geneem van die bouvallige mure. Die lede het reg rondom die huis geloop en die toestand van die huis geëvalueer. ANC-lede het gesê dat die huis afgebreek moet word sodat hulle dit heeltemal kan oorbou.

Olifant vertel dat daar ook ‘n ander persoon was wat afmetings kom doen het. Hy sê daar was oor ‘n tydperk 11 keer mense wat na sy huis kom kyk het.

Olifant is ‘n pensioenaris wat alleen woon en gesien word as ‘n behoeftige. Hy was gelukkig dat sy huis goedgekeur was om oorgebou te word, maar vier jaar later sit hy steeds in dieselfde bouvallige huis, waar die mure lyk of hulle enige oomblik inmekaar gaan tuimel. Beloftes is teenoor hom gemaak waarvoor hy nou nog wag.

Lisbeth Tais, ‘n pensioenaris en vriend van Olifant, woon ook in Heidedal. Sy sê: ”Daar was ‘n groep mense wat na my huis kom kyk het en nie lank daarna nie het hulle vir my ‘n nuwe huis gebou. Ek het ook twee beddens en twee nuwe banke saam met die huis ontvang.”

Nou wonder Olifant hoekom hy nie so vinnig gehelp kon word nie. Hy sê, “Die slegste van alles is dat hulle my in ‘n vraghouer wil laat bly terwyl hulle aan my huis bou. Ek sien nie kans vir soiets nie. As die bouproses lank vat, gaan ek vir ‘n baie lang tydperk in ‘n vraghouer moet bly. Wat maak ek dan met al my besittings, soos my klavier?”

Bloemfontein Courant het Olifant besoek om te kyk wat die werklike toestand van sy huis is. Op die oomblik word die agterste muur van sy huis met dun plankies teen ‘n boom gestut. Hy het al alles probeer om sy huis se mure staande te hou, maar hy weet nie vir hoe lank dit moontlik gaan wees voordat die mure inmekaarsak nie.

Solomon Olifant, wag byna 4 jaar dat sy bouvalige huis oorgebou moet word. FOTO: ZILKE PRINSLOO

ZILKE PRINSLOO

zilke@mahareng.co.za