Heidedal-swembad nou ‘n wit olifant

0
1633
Die gewese blou publieke swembad wat geen doel meer het. FOTO: PIERCE VAN HEERDEN

Die openbare swembad in Heidedal, wat eens op ‘n tyd baie pret aan kinders verskaf het, is nou net ‘n wit olifant.
Die swembad is verlede jaar gesluit nadat dit vir jare een van die gewildste plekke vir kinders was om hul tyd deur te bring.
“Die kinders het altyd lekker kom swem, maar nou is daar geen heenkome vir kinders as dit so warm is nie,” meen DA-raadslid, Attie Terblanche.
Die swembad het stadig maar seker begin agteruitgaan nadat die Mangaung Metro Munisipaliteit volgens bewering nie meer aandag en geld daaraan bestee het nie. “Die mure om die swembad is afgebreek en die koperdrade van die swembadpompe is ook gesteel, dus kan die pomp nie werk nie,” vertel John de Bruin, ook ‘n DA-raadslid. “Ons het al menige kere kwotasies by die munisipaliteit gaan inhandig, maar ons versoek om hulp val op dowe ore.”
Wat die twee raadslede se verstand verder te bowe gaan, is die feit dat daar steeds wagte aangestel word om na die swembad om te sien en dat daar ‘n opsigter is. “Die mense is steeds aangestel om te werk en verdien ‘n salaris, maar die swembad is toe. Daar kom nie mense nie. Die belastingbetalers se geld word steeds bestee aan mense wat nie regtig meer ‘n doel het om by die swembad te werk nie. Daar is sekuriteit, maar die swembadtoerusting en infrustruktuur word gesteel. Daar is ‘n opsigter, maar die swembad is nie in stand gehou nie. Hoe verduidelik ‘n mens dit?” vra Terblanche.
Dit lei na ‘n volgende kwessie. Omdat die swembad toe is, gaan kinders nou na die Coronation-gat en gaan swem daar. “Met die erge hitte wat ons beleef, is dit mos natuurlik dat kinders wil swem, maar dan verdrink hulle in die gat omdat daar geen toesig is nie,” sê De Bruin.
“Die gemeenskap moet verstaan dat ons alles in ons vermoë doen om Heidedal reg te ruk, maar sonder die munisipaliteit se samewerking is dit moeilik. Ek wil wel dankie sê aan die gemeenskap wat geduldig is. Ek is jammer vir die ongerief.”

Jeretha Oosthuizen 
jeretha@mahareng.co.za