Heidedal Swembad midde-in hartseer opgeknap

0
Heidedal Swembad midde-in hartseer opgeknap

Lani Fouché

Die Heidedal Swembad buite Bloemfontein gaan binnekort opgeknap word, te midde van ’n donker wolk wat om dié verwaarloosde perseel hang.  Die uitvoerende burgemeester van die Mangaung-metromunisipaliteit, Thabo Manyoni, het vroeër die week die amptelike oorhandiging van die perseel aan kontrakteurs gedoen voordat die drie maande lange opknappingsprojek van R1.9 miljoen afskop.  Hoewel inwoners in groot getalle vir die geleentheid opgedaag het en bly is oor die opknapping wat die eerste keer in baie jare gaan plaasvind, is die skok en hartseer in die gemeenskap nog tasbaar nadat die verminkte liggaam van ’n tienermeisie ’n paar weke gelede by die swembad gekry is.

Daar word vermoed dat sy deur ’n plaaslike bende verkrag en vermoor is.
“Haar bene was so erg gebreek dat dit sommer so agter haar kop gesit het. Dit was vir ons ’n groot skok, ons harte is baie seer. Ons is almal moeders – sy’s soos ons kind,” het ’n inwoner, Winnie van Heerden, aan Courant gesê.
Die inwoners van Heidedal roem hulself daarop dat hulle soos een man saamstaan wanneer daar ’n krisis is, maar hulle is kwaad. Kwaad vir die polisie omdat hulle “nie omgee nie”. ’n Ander inwoner, Evelyn Wiese, vertel dat die polisie eenvoudig nie op hul oproepe reagreer nie. “Ons bel die polisie hier in Heidedal as daar crime is, maar hulle kom nie! Ons bel onsself simpel, hulle gee net nie om nie!”

’n ANC raadslid in Heidedal, Maureen Scheepers, het aan die massas Heidedallers by die afskop van die opknapping van die swembad gesê dat die regering wel vir hulle omgee. “Dis ons government vir wie ons gestem het wat vir ons omgee. Hulle reik na ons toe uit. Maar ons moet ophou om terug te sit en alles te wil hê van hulle af. Ons moet self werk vir ’n beter lewe.”
Manyoni het saam met ander hoës in die munisipaliteit, insluitend die adjunkburgemeester, Connie Rampai en die stadsbestuurder, Sibongile Mazibuko, inwoners by die verwaarloosde swembad besoek om van hul planne te vertel.

Dit sal die opknapping van die groot, olimpiese-grootte swembad insluit asook herstelwerk aan die kinderswembad.
“Ons pak hierdie projek aan om swem as sport in die gemeenskap te bevorder, asook om kinders uit die strate te hou.
Maar bo en behalwe dit alles wil ons verseker die diegene wat nog nooit toegang tot ontspanningsgeriewe gehad het nie, dit nou sal hê,” het die munisipaliteit gesê. ’n Learn to Swim-program sal vir die gemeenskap aangebied word sodra die swembad voltooi is. Plaaslike swemgalas sal voortaan by hierdie swembad gehou word. “Ons is so bly oor die swembad,” het nog ’n inwoner, Thembi Ontong, gesê. “Onse vroue is net bietjie oud, ons kan nie swem nie! Maar ons is bly dat onse kinders nou ’n plek sal hê om te swem. Miskien verminder dit die crime hier in Heidedal.”

Courant kon teen druktyd nog nie vasstel of enige verdagtes weens die moord op die meisie in hegtenis geneem is nie.

No posts to display