Duane Petrus
Die afgelope vyf jaar het Courant gemeenskappe se harte warm gemaak met goeie mense-stories en sedert verlede week maak hulle nie net die Crusaders-rugbyklub in Heidedal se harte warm nie, maar hul liggame ook. Nie minder nie as 36 warm baadjies is verlede week aan die klub se bestuur en spelers deur Courant se redakteur, Maricelle Botha en Morgan Piek van die die sportkantoor, oorhandig.
Die Crusaders het met groot dankbaarheid hierdie geskenk tydens ‘n oefensessie op hul tuisveld by die Clive Solomon-stadion in Opkoms ontvang.
Die klub, wat in 1994 gestig is, sal volgende jaar sy 21ste bestaansjaar vier.
"Die klub is gestig toe Happy Hearts- en Swallows-rugbyklub op aanvraag van Vrystaat Rugby Unie saamgesmelt het met die doel om rugby in die voorheen benadeelde gebiede te bevorder," vertel voorsitter Ernest Beck.
Dit is ook die enigste klub in Heidedal wat in die eerste liga van Vrystaat Rugby en die Stadsbeker speel.
"Ons het al verskeie kere die Rowan-beker gewen en spelers soos Eddie Fredericks, Ashwell Rafferty en Cameron Malan vir die Curriebekerspan opgelewer. Ook het ons spelers soos Kabamba Floors, Bevan Fortuin en Ashley Johnson na die Vrystaat getrek," sê Beck.
Beck vertel Crusaders het vanjaar die algehele tiende plek volgens SARU se ranglys van oop klubs in die land beklee.
"Crusaders het ook hierdie jaar vir die eerste keer in die geskiedenis van die klub in die halfeindronde van die Stadsbeker gespeel en goed meegeding met tersiêre inrigtings soos die Shimlas van die Universiteit van die Vrystaat en die Ixias van die Sentrale Universiteit vir Tegnologie," sê Beck.
Dit het die klub in staat gestel om vir ‘n derde agtereenvolgende keer die eerste klub te word wat weer vir die Cell C-gemeenskapsbeker vir 2015 kwalifiseer.
duane@centralmediagroup.co.za
Date: