Heidedal hou kultuurmark dié naweek

0
1196
Levert Solomons, die gasheer van die heel eerste Heidedal Cultural Market.

Die tyd het uiteindelik aangebreek vir die langverwagte eerste aflewering van die Heidedal Cultural Market, wat die naweek gehou word.
Op Saterdag 10 Februarie 2018 lei alle paaie na die Daisy’s Pot-koffiewinkel by die Lee-Marco-sentrum in Heidedal vir die kultuurmark wat om 17:00 begin en om 23:00 eindig.
Daar sal tientalle stalletjies wees waar plaaslike entrepreneurs hul produkte en dienste sal uitstal, asook volop vermaak.
Onder die kunstenaars wat gaan optree, is Levante du Preez van Anotha Level-faam, Lenthea Jantjies, Darrol Campbell en Ruan Granelligh, asook Ronald Petersen. Levante en sy span gaan musiek van hul nuutste album uitvoer, terwyl Ronald die gehoor met sy eiesoortige rap-musiek gaan vermaak.
Daar sal onder meer ook ‘n restaurant wees waar besoekers kultuurdisse soos breyani, boboti, gevulde roti, Gatsbys asook samoosas kan eet. Vir die jongklomp sal daar volop vermaak wees.
Die Heidedalse sanger, Levert Solomons, gaan as gasheer optree. Behalwe om seker te maak dat alle besoekers aan die kultuurmark dit terdeë geniet, sal Levert ook almal op die hoogte hou oor wat op die kultuurterrein gebeur.
Volgens Mellow D Entertainment, die organiseerders van die Heidedal Cultural Market, is die mark ‘n poging om entrepreneurskap in Heidedal te bevorder en werkloosheid teen te werk. Die mark is egter ook ‘n viering van die unieke kultuur van Heidedal se inwoners. Die mark sal voortaan maandeliks in Heidedal gehou word.
Enkele stalletjies is nog beskikbaar vir die eerste kultuurmark. Entrepreneurs wat belangstel om hul produkte te kom verkoop, kan gerus die organiseerders by 073-226-7125 bel.
Toegang tot die kultuurmark is R10 vir volwassenes en R5 vir kinders onder 12.
info@bloemfonteincourant.co.za