Duane Petrus – Die konstruksiewerk wat tans by die Preprimêre Skool Heide in Ashbury aan die gang is, behoort teen 7 November vanjaar afgehandel te wees.
Die ou asbesklaskamers is verlede Desember verwyder en bouwerk aan die nuwe siersteenklaskamers en addisionele fasiliteite, wat die skool nie voorheen gehad het nie, het in Februarie vanjaar begin.
Meer as R56 miljoen is begroot om 33 klaskamers, ‘n administratiewe blok, drie graad R-klasse, ‘n veeldoelige klaskamer, toilette, ‘n wetenskaplaboratorium, ‘n biblioteek, ‘n voedingsentrum (wat sowat 350 kinders daagliks sal kosgee), sportfasiliteite, ‘n kleedkamer, ‘n winkel en ‘n skoolsaal te bou.
"Ons hier by die skool is baie opgewonde. Ons het die planne in ons personeelkamer teen ‘n muur geplak sodat ons elke dag daarna kan kyk.
"Dit gaan ‘n baie groot verskil maak ten opsigte van onderrig. Die asbesklaskamers is verskriklik koud in die winter en net so warm in die somer," sê die skoolhoof, Coleridge Marupen.
Die hoeveelheid klaskamers sal dieselfde bly. Die skool neem jaarliks ongeveer 1 100 leerlinge in.
"Ons sal die eerste skool in Heidedal wees wat ‘n aparte gebou het vir ‘n biblioteek. Dit sal meer boeke kan vat," sê Marupen.
Die sportveld, waarop die mobiele klaskamers tans staan, sal ontwikkel word sodra die nuwe geboue in gebruik geneem is, sê Howard Ndaba, woordvoerder van die departement van onderwys.
Talle inwoners van die gebied is konstruksiewerk aangebied deur die Limpopo-maatskappy wat vir die bouwerk verantwoordelik is.
duane@centralmediagroup.co.za