Heelwat Vrystaters ingespan vir Springbok Showdown

0
201
Malcolm Jaer FOTO: MORGAN PIEK

Heelwat van die Toyota Cheetahsspelers is by die groep van 93 ingesluit vir aanstaande week se “Springbok Showdown” wat op Nuweland in Kaapstad plaasvind.

Hoewel slegs 25 vvir elk van die groen-span en die goud-span wat teen mekaar speel, is dit volgens die Cheetahs ‘n groot eer om raakgesien te word, veral omdat hulle nie in die Super Rugby meeding nie.

Die eerste naam van die Vrystaters wat uitstaan, is die van die Springboksenter, Frans Steyn, wat ‘n tweemalige Wêreldbekerwenner is. Hy het egter nog nie op die veld vir die Cheetahs verskyn sedert hy na sy terugkeer uit Montpellier by die span aangesluit het nie.

Oupa Mohoj, wat in 2018 laas gespeel het weens ‘n kniebesering, is ook op die lys, en dit sal goed wees om dié losvoorspeler weer op die veld te sien. Hy is egter onder die slotte ingesluit.

Die twee slotte, Sintu Manjezi en Walt Steenkamp, wat onlangs by die Bulle kontrakte gesluit, verdien beslis hul plek in die vergrote groep, en daar is geen twyfel nie dat albei eendag in die groen-en-goud kan uitdraf.

Die vaskopstut, Luan de Bruin, wat jare deur die beseringspook geteister is, het voordat rugby opgeskort is van die beste spel in sy loopban gelewer en die oud-Junior Springbok sal sy man staan teen van die land se bestes.

Die flank, Junior Pokomela, se naam op die lys is geen verrassing nie, terwyl die Cheetahs se nuwe aanwins vanaf die Pumas, Jeandré Rudolph, ook ingesluit it.

Behalwe vir Steyn in die agterlyn, is Rosko Specman en Malcom Jaer ook in die visier van die nasionale keurders.

Jaer het aan Bloemfontein Courant gesê dat dit goed is om te weet dat daar steeds belangstelling in hom is.

“Ek is so bly. Dit wys dat daar steeds belangstelling in my getoon word. Ek is net bly om deel te wees van die 93-tal. Dit sal natuurlik ‘n groot eer wees om gekies te word om deel te wees van die 25-wedstrydspan.”

Oud-Cheetahs wat in die vergrote groep is, sluit in Trevor Nyakane, Ox Nche, Marcel van der Merwe, Duane Vermeulen, Elrigh Louw, George Whitehead, Clinton Swart, Cornal Hendricks, Rabz Maxwane en Sergeal Petersen.

Rikus Pretorius en David Kriel het albei skool gegaan op Grey-kollege, en het Vrystaat tydens die Craven-week verteenwoordig. – MORGAN PIEK