Heather Heights-begraafplaas weereens in die kollig

0
1073
Verna Smith wie se familie uitgevind het dat daar 'n vreemdeling begrawe is in dieselfde graf as hul oom.

Begraafplase regoor Bloemfontein was dikwels in die verlede in die kollig, talle kere om die verkeerde redes.

Menige inwoners het al hul frustrasie oor die swak instandhouding van die rusplek vir hul geliefdes en die vandalisering van grafte op sosiale media gedeel, met die hoop dat iets sal verander.

Die Heather Heights-begraafplaas in Heidedal is geensins anders nie, die plek is oortrek met bossies en lyk verwaarloos, maar afgesien daarvan het dit hierdie keer ‘n gesin in die omgewing woedend gelaat toe hulle uitvind dat daar ‘n vreemdeling begrawe is in dieselfde graf as hul oom wat sedert 1991 daar lê.

Verna Smith het aan Bloemfontein Courant vertel dat hulle die skokkende nuus op 18 Desember ontvang het toe hulle nog ‘n familielid daar wou begrawe. “Toe ons begin beplan, het die begrafnisondernemers aan ons gesê dat daar reeds iemand in dié graf lê.”
Smith het verduidelik dat dit hulle baie omgekrap het omdat hulle die spesifieke graf vir familie gereserveer het en die graf bespreek was vir oorledene om bo-op die oom begrawe te word. Daar was egter reeds twee kiste in dié graf.

Die is nie die eerste keer dat soiets met hierdie familie gebeur nie. Smith vertel hoedat sy eendag na haar dogter se graf gegaan het en besef het daar is iemand anders begrawe in die onderste gedeelte van haar dogter se graf. Die hopie grond het gewys dat daar nog iemand begrawe is.

“Haar graf het nou net die kopstuk, en die onderste deel van die graf wys dat sy nou in ‘n halwe graf begrawe is. Ek dink nie mense is bewus daarvan dat dit gebeur nie; in die 80’s is baie mense begrawe sonder kopstukke vir die grafte.”

Volgens Smith hou sy die munisipaliteit verantwoordelik vir hierdie probleem omdat hulle betrokke is by die bespreking van mense se grafte. “Mense moet na hul geliefdes se grafte gaan kyk om seker te maak dat dit nog veilig is en dieselfde nie met hul grafte gebeur het nie.”

Bloemfontein Courant het vrae aan die Mangaung Metro Munisipaliteit se woordvoerder gestuur, maar teen druktyd nog geen antwoord gekry nie.

Sazly Hartzenberg

sazly@centralmediagroup.co.za