Haydn se meesterwerk, Die Skepping uitgevoer

0
772

Haydn se meesterwerk, Die Skepping word op Sondag 7 September om 15:00 in die NG Kerk Heuwelsig deur die Symphony Choir of Johannesburg en die Vrystaatse Simfonieorkes (VSO) onder leiding van Alexander Fokkens uitgevoer. Die soliste is Magdalene Minnaar (sopraan), Kgaugelo Mpyane (tenoor) en Aubrey Lodewyk (bariton). Die teks van die werk (wat tydens hierdie uitvoering in Engels gesing word) kom hoofsaaklik uit Genesis en die Psalms.

Magdalene Minnaar betower gehore wêreldwyd met haar veelsydige stem en enigmatiese verhoogpersoonlikheid soos blyk uit die resensies vir haar optredes in die produksies van Show Boat en The Phantom of the Opera. Ander hoogtepunte in haar loopbaan sluit in: ? optrede saam met die Kaapse Filharmoniese Orkes tydens die opening van die Kaapstad Stadion, optredes saam met die Johannesburg Festival Orchestra onder leiding van Richard Cock, Sean Bovim se indrukwekkende produksie Queen at the Ballet en Deon Opperman se multi-media oratorium Die Skepping.

Kgaugelo Mpyane is ? finalejaarstudent van die Odeion Skool vir Musiek waar hy altviool en sang studeer. Hy het al talle pryse en toekennings vir sang ontvang: hy was wenner van die Musicon kompetisie in 2010 en 2011, Vrystaatse kampioen in die SACMA kompetisie en wenner van die UNISA musiekfeeskompetisie in 2011. As solis tree hy saam met verskeie kore, waaronder die Bel Canto Voices en Voices of the Nation op in uittreksels uit Messiah (Handel), Nabucco (Verdi), en Lohengrin (Wagner).

Volgens Volksblad het Aubrey Lodewyk feesgangers by die Vryfees (in die produksie An Enchanted Evening) met sy “warm baritonstem … in vervoering gehad”. In 2011 het hy die rol van Mandela in die wêreldpremière van die Mandela Trilogy asook vir die Europese debuut van die produksie in Cardiff vertolk. Aubrey het sy debuut met die New Israeli Opera in Tel-Aviv in die rol van Silvio (I Pagliacci) gemaak en die rol van William in Jan Meyerowitz se opera Il Mulatto in Marseille vir die Festival Musique Interdites. Vroeër vanjaar het Aubrey die rol van Gugliemo (Cosi fan Tutte) in Pretoria vertolk en sy debuut in München gemaak in die Mandela Trilogie.

Die Symphony Choir of Johannesburg is in 1947 deur Edgar Cree gestig as die SABC Choral Society. Sedert 1980 is die koor onder leiding van Richard Cock en het dit gegroei om tans as een van die mees toonaangewende kore in die land gereken te word. Hulle sing ? wye repertoire wat meeste van die bekende oratoriums soos Elijah (Mendelssohn), Messiah (Handel), Gloria (Vivaldi) en die Requiems van Brahms, Mozart, Verdi, Fauré en Duruflé insluit.

Toegang is R120 (volwassenes), R80 (pensioenarisse) en R50 (studente/skoliere en vir groepe van 10 of meer).

Kaartjies is by Computicket (Checkers, Shoprite winkels) beskikbaar of bespreek aanlyn by www.computicket.com