Hawies is op sy pos

0
505
Die nuwe Toyota Cheetahs-afrigter, Hawies Fourie, saam met die losskakels Tian Schoeman (links) en Louis Fouché (regs) tydens Maandagmiddag se oefensessie. FOTO: MORGAN PIEK

Hawies Fourie was Maandag op sy pos vir sy eerste dag as nuwe Toyota Cheetahs-afrigter. Fourie, wat hulpafrigter van die Cheetahs was voordat hy sy eie vaardighede by die Griekwas en Maties geslyp het, moes al ná die Curriebeker by Franco Smith oorgeneem het, maar kon weens mediese redes nie.

Die verandering van breiers sal sonder twyfel ‘n uitdaging vir Fourie sowel as die spelers wees, hoewel dit nie op ‘n beter tyd kon gebeur het nie. Die Cheetahs het in hul eerste drie wedstryde van die Guinness PRO14 die Glasgow Warriors, Ulster en Munster lelik laat les opsê.

Fourie se eerste uitdaging is ‘n grote. Hy moet die span op toer neem na Ierland en Wallis vir wedstryde teen Connacht in Galway, Scarlets in Llanelli en Cardiff Blues in Cardiff.

Fourie het aan Bloemfontein Courant gesê dat daar ‘n goeie gees in die span heers en die fokus nie daarop sal wees om te verander aan dit wat werk nie.

“Daar is ‘n paar nuwe goed waaraan ons werk en nuwe maniere van oefen. Dit neem gewoonlik ‘n ruk vir die spelers om gewoond te raak aan ‘n nuwe ‘drill’ of nuwe manier van dinge doen. Ek is nogal beïndruk met hoe vinning hulle dit reggekry het. Die uitvoering was goed en die intensiteit was goed. Duidelik wil ‘n paar ouens die nuwe afrigter beïndruk, so dit is ‘n goeie ding. Ek is baie tevrede met hoe dit tot dusver verloop.

“Die grootste fout wat ek kan maak, is om die wiel te probeer herontwerp. Ons moet hou by wat vir die span werk en terselfdertyd net die klein goedjies beter doen. Dit is waarop ek sal fokus voordat ons aanstaande week oorsee gaan.”

Fourie erken dat dit nie maklik was om sy eerste toergroep te kies nie. Hy besef dat van die spelers speeltyd verdien, maar sê dat hy nie Kersvader is nie.

“Die groot ding gaan wees dat ek spelers sal moet roteer wat dit verdien. Ek het reeds met elkeen van die spelers gepraat. Ek het gesê as ek voel ‘n ou verdien dit en hy is baie naby aan die ou wat in die beginspan was, sal ek hom daarvoor beloon. Ek sal hom nie van die veld af hou nie, maar ek is ook nie Kersvader die. Ek deel nie net ‘caps’ uit nie, hy sal sy speelkans moet verdien. Hier is heelwat ouens wat wys dat hulle regtig speelkans verdien, maar ek sal hulle op die toer in die Ospreys-wedstryd daarvoor beloon.”

Fourie erken dat hoewel die teenstanders wat hulle op die toer gaan pak dalk nie die sterkste in die kompetisie is nie, hulle egter nog verslaan moet word. Anders sal ‘n plek in die uitklopwedstryde net ‘n droom bly.

“Om spanne soos Glasgow Warriors, Ulster en Munster te klop, is baie goed vir die selfvertroue. Hulle was egter sonder van hul beste spelers, maar soos Franco (Smith) gesê het, hulle is spanne met baie geld, hulle het lank beplan vir spelers by die Wêreldbeker, so hulle kon kwaliteit-spelers inbring. Dit was nogtans ‘n uitstekende vertoning deur die span om dié drie spanne oortuigend te klop. Vir my sal die grootste uitdaging wees om oorsee te wen. Die Cheetahs het nog min spanne oorsee geklop. Dit is die uitdaging wat ek aan die spelers gerig het. Dit is nou die tyd om ons staal oorsee te toon. As ons die uitklopronde wil bereik, moet ons oorsee wen en nie net tuis nie.”

Die Cheetahs pak aanstaande Saterdag om 18:15 vir Connacht in Galway. Die kragmeting skop om 18:15 Suid-Afrikaanse tyd af. – MORGAN PIEK