Hartseer oor toestand van Bainsvlei -begraafplaas

0
901
Bainsvlei-begraafplaas waar 'n paar grafte ingesak het. Die lang gras maak dat mense sukkel om grafte op te spoor.

Sosialemedia-platforms word oorval met boodskappe van Bloemfonteinse inwoners oor hoe ongelukkig hulle is oor die toestand van hul geliefdes se finale rusplek in die Bainsvlei-begraafplaas, spesifiek in die deel wat onder die Mangaung-metro-munisipaliteit val.

Volgens Elmarie de Bruyn, ‘n inwoner wie se seun en baie ander familielede ook daar begrawe is, was sy op 7 Maart by haar seun se graf en is die begraafplaas ‘n oerwoud.
De Bruyn het aan Bloemfontein Courant gesê die aaklige toestand van die begraafplaas is vir haar baie hartseer om te aanskou.

Die plek het ontsettend agteruitgegaan. Sy vertel dat sommige mense se grafte nie eers meer gesien kan word nie, so bebos is dit. Daar is ook van die grafte wat ingesak het wat nie eens gesien kan word nie omdat die lang gras dit verberg. Volgens haar maak die munisipaliteit net nie meer daar skoon nie. “Omdat dit ‘n mens se geliefdes se laaste rusplek is, wil ‘n mens graag hê dit moet netjies wees,” vertel De Bruyn.

Haar dogter het foto’s van hoe dit by die begraafplaas lyk op Facebook geplaas en kontak gemaak met die munisipaliteit, maar daar het steeds niks van gekom nie. Sy sê die ergste is dat ‘n begraafplaas, wat as een van Bloemfontein se topbegraafplase bekend is, in so ‘n toestand is.

Sy voeg by dat sy ten minste bly is dat daar geen grafte gevandaliseer is nie en die heining nog staan.

Bloemfontein Courant het navraag gedoen by die die munisipaliteit se woordvoerder, Qondile Khedama, en hy sê dat hy nog wag vir terugvoer van die betrokke departement en dan met Bloemfontein Courant sal kommunikeer.

Sazly Hartzenberg

sazly@centralmediagroup.co.za