Dit is asof een van die honde van ‘n afgetrede Transnet-treindrywer van Bloemfontein, wat in sy huis in Pellissier vermoor is, weet sy baas kom nooit weer terug nie. Hendrik Knoetze (73) se lyk is Maandag deur ‘n bekommerde buurman, wat direk langs Knoetze bly, gevind. Die buurman is omstreeks 09:00 na Knoetze se huis om ondersoek in te stel nadat hy die afgelope paar dae nie gesien is nie. Hy het om die huis gestap nadat niemand oopgemaak het toe hy aan die voordeur geklop het nie. Die agterdeur was op ‘n skrefie oop. Knoetze, wat alleen gewoon het, se lyk was in ‘n sittende posisie teen ‘n yskas in sy kombuis. Sy hande en voete was met toue vasgebind. Hy het verskeie kopwonde opgedoen en is vermoedelik doodgeslaan. Hartseer tonele het daarná by die moordhuis afgespeel toe Knoetze se honde, ‘n driebeen-skaaphond en ‘n miniatuur-Pinscher, deur sy neef, Anthony Oliver, en sy skoonsuster, Leonora, in ‘n bakkie buite die huis gelaai is. Dit terwyl hul baas se lyk nog in die huis was.
Knoetze se ander neef, Glanville Oliver, kon nie die honde se name onthou nie. Hy vertel hulle het egter later besluit om die honde eerder by die moordhuis te los, omdat dit ‘n bekende omgewing vir hulle is. “Ons het vir hulle kos en water gegee.” Die diere se hokke en ander goed was nog alles daar.
Voor die Olivers by die moordhuis weg is, het die skaaphondjie, wat sonder ‘n agterbeen is, op die erf rondgehardloop en saggies getjank. “Die miniatuur-Pinschertjie het voor die voordeur gesit. Ek kon sien hy lyk hartseer; so asof hy weet wat gebeur het.”
Glanville sê die skaaphondjie, wat eers aan hul oom se suster in Port Elizabeth behoort het, sal nou weer saam met haar teruggaan. Die ander hondjie gaan moontlik ‘n nuwe huis by ‘n elders in Bloemfontein kry.
Met Bloemfontein Courant se aankoms op die toneel was die buitekant van die huis afgesper, terwyl die polisie se forensiese-eenheid die huis vir leidrade gefynkam het. Opgehoopte koerante het by die tuinhek voor die huis gelê. Knoetze was “erg oor ‘n koerant.” Glanville sê dit is hoe hy op die hoogte van nuus gebly het. ‘n Lykswa het ‘n paar uur later opgedaag.
Glanville beskryf Knoetze se dood as onverstaanbaar, omdat hy ‘n vredeliewende mens was wat niemand skade sou aandoen nie. “Dit was ‘n geweldige groot skok. Ons het eers gedink hy is aan natuurlike oorsake dood, totdat ons self by die huis aangekom het.”
Polisiewoordvoerder, Chaka Marope, sê daar word vermoed dat roof die motief vir die moord was, omdat die huis omgekrap was. Dit was teen Dinsdag nog nie duidelik wat uit die huis gesteel is nie. Glanville sê sover hulle kon vasstel word slegs Knoetze se selfoon vermis. Geen elektriese ware is gesteel nie. Hy sê die kasdeure in die hoofslaapkamer het oopgestaan, maar niks is gebuit nie. Geen van Knoetze se versameling van klein drankbotteljies in ‘n toonkas in die sitkamer is gevat nie. Marope sê die nadoodse ondersoek sal meer duidelikheid werp op Knoetze se dood, maar hy is vermoedelik drie dae voor sy lyk gevind is, vermoor. Knoetze is verlede Vrydagaand omstreeks 11:00 laas lewend buite sy huis gesien. Glanville sê ‘n buurman oorkant die staat het hom op sy stoep sien staan. Hy het kyk waarom die honde in die buurt blaf.
Nog niemand is in hegtenis geneem nie. Die polisieondersoek duur voort.
Geen begrafnisreëlings was Dinsdag teen druktyd bekend nie. Glanville het toé gesê hulle wag nog vir Knoetze se twee jonger susters, Johanna Dance en Miriam Terreblanche, om van Port Elizabeth af te kom. – Christal-lize Muller & Mark Steenbok
christal-lize@centralmediagroup.co.za
mark@centralmediagroup.co.za