Harrismith pastoriemoord: verdagte wil nie meer borg hê

0
Harrismith pastoriemoord: verdagte wil nie meer borg hê

LANI FOUCHÉ

Elliot Mhlambi wat verdink word van die gru-moord op ‘n Harrismith-dominee en sy aanstaande skoonseun, gaan nie meer om borgtog aansoek doen nie. Mhlambi (41) het vandag weer saam met dominee Willem Brits se seun, Martin Brits, weens dié moorde in die dorp se landdroshof verskyn. Die saak is tot 12 Desember uitgestel.

Courant het verneem dat Mhlambi se regsverteenwoordiger hom aanbeveel het om sy borgaansoek te laat vaar, alhoewel hy vroeër aangedui het dat hy wil, omdat dit heel waarskynlik onsuksesvol sou wees.

Mhlambi en Brits (28) het weer vandag vlugtig in die hof verskyn. Hulle word daarvan verdink dat hulle vroeër die maand vir dominee Willem en sy vrou, Dorothea, met ‘n byl in hul pastoriehuis gekap het. Willem het gesterf en Dorothea sterk steeds in die Mediclinic Bloemfontein aan. Hul aanstaande skoonseun, Gerhardus Vermeulen, is in die voorval doodgeskiet.
Martin het tydens hul eerste hofverskyning reeds gesê hy wil nie om borgtog aansoek doen nie. Hy het ook kort daarna ‘n skuldbekentenis gemaak.

‘n Regskenner, Pieter Nel, sê in sulke gevalle waar die verdagte ‘n skuldbekentenis maak, het dit nie ‘n baie groot invloed op die regsprosesse nie. Eers as iemand tydens die verhoor skuldig of onskuldig pleit, sal hulle weet of die twee se verhore geskei moet word.

Die direkteur van openbare vervolging sal in die volgende paar dae moet vasstel hoe die saak gaan voortgaan, en in watter hof die verdagtes verhoor sal word. Hoe meer kompleks die saak, hoe groter die kans dat dit in ‘n hooggeregshofsitting sal plaasvind.

Polisiewoordvoerder, Mmako Mophiring, het gesê die twee bly intussen in die Harrismith Gevangenis tot hul volgende verskyning op 12 Desember.

Hy sê hoewel dit vir verdere ondersoek uitgestel is, glo hy nie alle ondersoeke sal teen dan voltooi wees nie.

Intussen sê Amanda Appelgryn, woordvoerder vir Mediclinic Bloemfontein, Dorothea sal vandag nog ‘n breinskandering ondergaan, en afhangende van die resultate, sal hulle haar geleidelik van die ventilator begin speen en haar sedasie verminder. Sy het sedert die voorval nog nie haar bewussyn herwin nie, en is onbewus van die gebeure.

‘n Roudiens is Donderdag vir Vermeulen in Harrismith gehou, en Vrydag vir dominee Willem. Martin het ‘n brief uit die tronk aan sy pa se kollega en mede-leraar, AJ Scherrer, geskryf waarin hy aan God, die gemeenskap en sy familie om vergifnis vra. Dié brief is tydens dominee Willem se roudiens in die kerk voorgelees.

"Ons het ‘n gevoel van kwaadgeid, maar ons moet hom vergewe, dit weet ons. Dit gaan net ‘n ruk neem," het ‘n jarelange vriend van wyle dominee Willem, Paul van der Merwe, kort na die roudiens gesê.

No posts to display