Die Harmony-akademie se seuns o.17-sokkerspan in Virginia is Sondag in Bloemfontein vir die sewende keer uit die nege bestaansjare van die Engen-uitklopreeks as kampioen gekroon. Harmony het Royal Stars van Welkom in die eindstryd, wat by die gasheer Grey-kollege se velde beslis is, verspot maklik met 2 – 0 verslaan.
Ná soveel jare as kampioen begin mens soek na geheime wapens of selfs wedstrydplanne waarvoor die manne van Virginia se teenstanders geen teenvoeter het nie, maar daar is niks daarvan te bespeur nie. Harmony is eenvoudig té goed vir die ander spanne omrede hulle jaar na jaar nie paniekbevange raak wanneer hulle onder groot druk is nie. Hulle hou kop soos heelparty professionele spanne in Suid-Afrika net van droom.
Die elftal van Virginia was reeds in die groepwedstryde onder druk geplaas deur Grey-kollege toe laasgenoemde 2 – 1 voorgeloop het. Harmony se manne het komkommerkoel gebly en twee doele voor die eindfluitjie ingeryg om Grey 3 – 2 te klop.
Harmony se senuwees is in die halfeindstryd teen FC Remember tot die uiterste beproef, maar weer het Harmony dié reuse-toets geslaag. Met speeltyd verstreke was daar geen punte op die telbord nie en Harmony het uiteindelik die wedstryd in ‘n uitskopstryd gewen. Hulle het die uitskopstryd tot 9 – 8 in hulle guns geswaai.
Na ‘n wipplanktoernooi van goeie én swak wedstryde het Grey deurgedring na die halfeindronde teen Royal Stars. Die Grey-manne het egter ‘n loesing gekry toe Royal Stars die wedstryd oorheers het in alle afdelings en met ‘n 4 – 0 oorwinning deurgedring het na die eindstryd teen Harmony.
In die eindstryd was Royal Stars duidelik senuweeagtig en het ongedwonge foute begaan, wat Harmony deurgaans op die voorvoet geplaas het. Die groot uitblinker van Harmony, Teboho Mokoena (middelveldspeler) het reeds in die eerste helf de sy span se eerste doel aangeteken. Kort daarna het Harmony se doelskieter, Morapedi Mpuru, die eindtelling (2 – 0) op die telbord aangebring. Daarna het dit gelyk of Harmony bloot ‘n oefensessie deurwerk en veral hulle aangeë oefen.
Mokoena het ‘n onderskeiding behaal wat gewoonlik in doelskieters se skoot val. Hy het as middelveldspeler die meeste doele van die toernooi aangeteken. Hy het nie minder nie as drie eerbewyse ingeryg – voorste middelveldspeler, meeste doele in die toernooi én beste speler van die toernooi.
Ander individuele eerbewyse vir die bestes in die onderskeie afdelings het gegaan aan:
Skeidsregter: Mmathiba Tshosane. Afrigter: Pitso Mokoena (Harmony). Verdediger: Thabo Dasheke (FC Remember), Doelskieter: Jessie Seekoei (Grey). Doelwagter: Paseka Moleleki (Royal Stars).