OWEN KOCK
Die Bloemfonteinse Dierebeskermingsvereniging (DBV) gaan na verwagting in Desember nie minder as 600 ronderloperdiere moet huisves. Volgens senior inspekteur Reinet Meyer, het hulle in November 400 diere ingeneem, en met die vakansie om die draai gaan dit meer word. Baie troeteldiere gaan swaar kry aangesien baie eienaars met vakansie gaan, of reeds met vakansie is, terwyl daar nie voorsiening gemaak word om na diere om te sien nie. “Dit is ook dié tyd van die jaar dat ons ’n behoefte het aan kos vir die diere waarna ons omsien hier by die DBV. As enigiemand sou wou, is hulle welkom om kos te skenk,” sê Meyer.
Dan is daar nog die kwessie van vuurwerke wat hierdie tyd van die jaar geskiet word, en diere wat as gevolg daarvan seer kry. Daar is wel wetgewing wat bepaal dat vuurwerke nie in ’n beboude gebied afgevuur mag word nie, maar baie mense steur hulle nie aan die regulasies nie. “Ons kan nie beklemtoon hoe erg die situasie is nie. Diere word verskrik en beseer. Dis baie erg. Diere wat lank saam in ’n erf bly, begin mekaar byt en hulle spring deur tralies, mure en vensters. Hulle gehoor kan ook aangetas word. Indien die polisie optree, kan mense in die tronk gestop word of ’n groot boete kry,” voeg Meyer by.
Vergiftiging van diere het ook weer kop uitgesteek, en nie net in die Vrystaat nie, maar landwyd. Dit loop gewoonlik saam met misdaad. “Vergiftiging is een van jou ergste dode om te sterf. Honde bloei van binne af en dis ’n verskriklike pynlike dood. Die persoon wat gif aan diere gee, is absoluut ongenaakbaar.” Volgens Stefan Weydeman, eienaar van Securiforce in Bloemfontein, beplan misdadigers deeglik vir die Desembervakansie en baie keer raak hulle ontslae van waghonde by die huis waar hulle wil inbreek.
“Ek sien Kersfees as ’n gratis inkopietog vir misdadigers. Dis dan wanneer diere vergiftig kan word. Hulle wag deesdae ook nie meer dat jy nie by die huis is nie,” sê Weydeman. Meyer doen ’n beroep op Bloemfonteiners om hul diere by losieshokke te los waar hulle kos en water kan kry terwyl die eienaars met vakansie is.