Hansie, sy hond en die hadidas

0
2312
Hansie is vol lof vir sy beste vriend, Droopy. FOTO: PIERCE VAN HEERDEN

Die liefde van Hansie Fourie vir sy basterhondjie, Droopy, spreek ná 13 jaar steeds boekdele.
Fourie, bekend aan baie inwoners wat daagliks verby die verkeerslig by die Engen-vulstasie by Northridge Mall ry, staan al sedert Maart 2014 daar. Oor die jare het Fourie natuurlik baie gesigte leer ken. “Ek het al baie mense by die robot ontmoet. Van vriendelik tot nors. Mense wat hul hand en hart vir ons oopmaak, én die wat my skel omdat hulle dink ek misbruik my hond sodat mense iets vir ons moet gee,” vertel hy.
Dit is duidelik dat Fourie ‘n mense-mens is. Hy het ‘n goeie sin vir humor en sagte hart en deel graag sy glimlag. Hy het ook vele grappe wat hy kan vertel oor Droopy, wat hy beskryf as ‘n uiters liefdevolle maat.
Fourie vertel dat Droopy graag soene uitdeel en baie beskermend is teenoor hom. Hy het Droopy gekry toe die hond ses maande oud was en sê dat hy op 1 Januarie volgende jaar ‘n volle 13 jaar oud word.
“Droopy se gunsteling-kos is natuurlik stukkies hoender. Jy kan ‘n bees of ‘n skaap daar sit, hy sal een kyk gee en dan die hasepad kies.”
Afgesien van baas Hansie, is die vierpootkind se beste maats die hadidas wat gereeld in die omgewing is. “Droopy kan nie juis verstaan waarom hy nie ook bo in ‘n boom kan sit as ‘n hadida dit doen nie. Sy ore sak en dit is asof hy ‘n Red Bull vra om hom vlerke te gee,” spot Fourie.
Volgens Fourie help baie mense hom met Droopy. Sommige betaal die veaartsrekening as Fourie hom vir sy inspuitings moet neem en ander betaal weer vir ‘n was en skeer by PawPark in Langenhovenpark. En as hy self kosdonasies van mense ontvang, kyk hy wat hy met Droopy kan deel. “Ek kyk altyd vir iets vleiserigs. As daar nie is nie, maak ek vir hom ‘n beker koffie met Cremora in. Ek sal sy beskuitjie daarin doop en vir hom gee om te eet en dan sal hy sy koffie klaar drink.”
Droopy is spekvet en gesond. Hy weeg ‘n volle 14 kg en kan nog sien, sonder pyn beweeg en lekker eet.
Fourie sê as Droopy eendag sy vlerke hemel toe kry, weet hy nie of hy dit sal oorleef nie. “Ek sal nie nog ‘n hond kry nie, want hulle sal nooit Droopy wees nie. Ek dink as hy doodgaan, dan kan ek ook maar saam Hemel toe.” – Jeretha Oosthuizen

jeretha@mahareng.co.za