Hanneke wen Suid-Afrikaanse Jeep Warrior-reeks

0
2603
RUFUS BOTHA

Die Rosestad se ystervrou, Hanneke Dannhauser is Sondag by Hartbeespoortdam gekroon as Suid-Afrikaanse kampioen in die Jeep Warrior-reeks.

Dit beteken ook dat sy Suid-Afrika oor vier weke by die wêreld-Warriorbyeenkoms in Cincinnati (VSA) gaan verteenwoordig in dié sportsoort wat jou krag en uithouvermoë tot die uiterste beproef.

Sondag was die laaste van die ses Suid-Afrikaanse Jeep Warrior-reeksbyeenkomste en Dannhauser het tot voor Sondag met ‘n skitterende reeks genoeg punte bymekaar gemaak om die reeks te wen. Sy moes Sondag slegs die wedloop voltooi.

Maar, toe gebeur die onvoorsiene en sy voltooi bykans nié die wedloop nie. As dit nie vir haar grootse veggees was nie, was die Cincinnati-byeenkoms neusie verby.

Dannhauser was met sowat 1,5 km en drie moeilike hindernisse oor nog gerieflik in die tweede plek en kort op die hakke van een van die gunstelinge, Carla van Huysteen. Dannhauser het egter by die vierdelaaste hindernisbaan haar enkel erg beseer en dit het geblyk dat dit onmoontlik gaan wees om die wedloop te voltooi.

Sy het egter hard op haar tande gekners en aanhou probeer. Dannhauser het vir Bloemfontein Courant gesê: "Ek was so ge-rattle dat ek na ongeveer 20 probeerslae eers die vierde laaste hindernis kon baasraak. Normaalweg sou ek dit die eerste keer reggekry het.”

Intussen het Van Huyssteen nie die wedloop voltooi nie en Dominique D’Oliveira en Michelle Meyer is by Dannhauser verby om uiteindelik eerste en tweede te eindig. Dannhauser het met groot pyn en ‘n slakkegang die ongeveer 20km-wedloop in die derde plek voltooi. Dít was goed genoeg om die reeks te wen.

Dannhauser het by die vorige Jeep Warrior-reeks wedloop vir D’Oliveira met meer as drie minute geklop.

Die Bloemfonteiner se enkel het so erg geswel en gepyn dat sy Maandagaand by die Rosepark-hospitaal moes oornag sodat ‘n spesialis die besering behoorlik kon assesseer.