Sonet Angelique du Plessis, oftewel Hailey Clark soos sy deesdae bekend staan, is vinnig besig om vir haarself naam te maak in die Afrikaanse musiekbedryf.
Clark is op 18 Mei 1995 in Christiana gebore, waar sy ook matriek geskryf het. Sy studeer op die oomblik Drama en Teater aan die Universiteit van die Vrystaat, ten spyte daarvan dat haar sangloopbaan haar baie besig hou.
Clark se musiekloopbaan het begin toe sy maar vyf jaar oud was. ‘n Musiekskool het in haar tuisdorp geopen en sy en haar sussie het dadelik belang gestel om musieklesse te neem. HÃer het haar passie vir musiek ontstaan en kort daarna het sy begin deelneem aan kompetisies soos Supersterre en feeste soos Aardklop en die KKNK, kerkoptredes en ander geleenthede. Sy het later ook dans- en kitaarlesse geneem.
Haar eerste album, Hailey Clark, is vrygestel in 2016. Dié debuutalbum kan beskryf word as Afrikaanse pop met ‘n elektroniese aanslag. “Die hoofdoel van die album is dat luisteraars moet pret hê wanneer hulle daarna luister. Daar is wel ‘n paar dieper liedjies, maar niks te ernstig nie,” verklap sy.
Buiten vir die ongelooflike skrywers en kunstenaars saam met wie sy aan haar album gewerk het, het sy ook die afgelope twee jaar heelwat voorvertonings gedoen vir van die grootste kunstenaars in die land, waaronder Steve Hofmeyr, Adam, Joe Foster, Jan Rhaap en Anton Botha.
Clark vertel sy hou van enige tipe musiek en word geïnspireer deur mense soos Elvis Blue en Spoegwolf.
Haar album is duidelik ‘n sukses. Sy is vroeër vanjaar benoem vir ‘n Ghoema-toekenning, vir onder meer die Publiek se Gunsteling- Vroulike Sanger van die Jaar; Beste Vroulike Album, asook Beste Vroulike Nuweling.
Haar grootste droom is om aan te hou doen waarvoor sy lief is, te groei in haar loopbaan en haar debuut op die grootskerm te maak in ‘n Afrikaanse fliek of twee.
“Musiek is nie wat ek doen nie, dis wie ek is,” sê sy. – Jeretha Oosthuizen
jeretha@mahareng.co.za
Date:
Hailey Clark sing die land aan die brand
Die nuwe sangsensasie, Hailey Clark.