Gutter weer terug op eie bodem

0
640

MARICELLE BOTHA

Dit is min dat ‘n kunstenaar die geleentheid kry om by meesters soos Rembrandt, Rodin, of selfs eietydse kunstenaars soos Ai Weiwei, kan leer. Maar indien só ‘n geleentheid oor jou pad kom, gryp jy dit met albei hande aan, meen die bekroonde Bloemfonteinse kunstenaar Pauline Gutter.
Gutter het pas teruggekeer van ‘n ses maande-kunsresidensie in Parys nadat sy verlede jaar aangewys is as die wenner van die gesogte Absa L’Atelier-kunskompetisie. Ná haar residensie in Parys het sy ook twee maande in die suide van Frankryk by die Grand Village ‘n litografiese residensie saam met ander bekende kunstenaars soos Christiaan Diedericks en Francis van der Riet gedoen.
Gutter vertel sy het geweldige inspirasie geput uit die meesterwerke waartoe sy so maklik in Parys en ook die res van Europa toegang gehad het.
"Ek het nogal baie portretontwikkeling gedoen en in baie museums gesit en skets. Dit was vir my ‘n geweldig visuele navorsingsprojek. Wat jy nie besef as jy voor ‘n werk staan en net bloot daarna kyk, is dat dit heelwat anders as om dit te teken. Dit is dan dat jy begin sien hoe die kunstenaar iets gesien het, hoe hy of sy dit vertolk en visualiseer het," vertel sy.
In Parys het sy in die Cite Internationale des Arts gebly wat vir professionele kunstenaars van sowat 50 verskillende lande regoor die wêreld residensies bied. Die inwonende kunstenaars kom uit verskillende dissiplines en bestaan uit komponiste, musici, beeldende kunstenaars, ens. Twee ander Suid-Afrikaanse kunstenaars wat gedurende Gutter se tydperk ook hier inwonend was, is konseptuele kunstenaar Liza Grobler en illustreerder Fawa Conradie. "Dit is werklik ‘n mengelmoes van kunstenaars bymekaar. Dit is ongelooflik."
Gutter vertel dat sy taamlik hard gewerk het tydens haar tydperk in die buiteland. Sy het onder meer werk gelewer vir die KKNK asook vir die Absa L’Atelier 2014-groepuitstalling Blood, Sweat and Tears. Sy vertel dat sy in Parys ook deelgeneem het as medewerker aan ‘n tentoonstelling oor Antartika en ‘n geologiese tentoonstelling.
By die Grand Village het Gutter vir die eerste keer in jare haar hand weer aan litografie gewaag. "Litografie is vir my amper soos ‘n nuwe medium. Die laaste keer wat ek daarmee gewerk het, was in my tweedejaar op universiteit. Die feit dat ek werklik eksperimenteel kon werk en grense oorbrug het, was vir my baie opwindend en dit is iets wat ek beslis verder mee sal eksperimenteer.
"Dit was vir my ook ‘n interessante projek omdat ek gewoond daaraan is om op my eie aan my eie werk te werk. By die Grand Village moes ek saam met Christiaan en Francis werk. Dit was soms ‘n groot uitdaging."
Gutter se solo-tentoonstelling by die Absa-kunsgalery in Johannesburg vind volgende jaar in September plaas en sy beplan om dié reisende tentoonstelling regoor die land te neem.
Met haar nuutgevonde passie vir litografie vertel sy dat sy graag in die toekoms nog ‘n draai by die Frans Masereel-sentrum in Beligië en die The Artists’ Press in Witrivier sou wou maak, maar is vir nou eers weer ‘n rukkie tuis, net hier in Bloem.

*Gutter ontvang op 16 Oktober ‘n spesiale toekenning van die Universiteit van die Vrystaat Alumni.

maricelle@centralmediagroup.co.za