Gutter se werke konfronteer met die werklikheid

0
639

Maricelle Botha

Vir die eerste keer sedert 2008 sal Bloemfonteiners nou kans hê om die werk van die bekroonde plaaslike kunstenaar, Pauline Gutter, in ’n solo-tentoonstelling te beleef. Gutter se uitstalling, getiteld The last of us, open more in die Oliewenhuis-kunsmuseum. The last of us het in November verlede jaar in die William Humphrey’s-kunsgalery in Kimberly gedebuteer en was vanjaar ook op die Klein Karoo Nasionale Kunstefees te sien. Gutter vertel dat die uitstalling baie gegroei het sedert sy debuut. “Die uitstalruimte is grootliks bepalend watter seleksie werke jy vir jou tentoonstelling kies. Jy kies die werk anders en dit gesels anders in verskillende ruimtes,” sê sy. Gutter verduidelik dat die tentoonstelling veral die vrees van die samelewing aanspreek. “Alles is deesdae so net op die nippertjie. Almal leef met die vraag: Kan ek vandag vermoor word?”

Die landskap word volgens haar gesien as ’n verbyvlietende oomblik. Sy meen dit kan hoofsaaklik toegeskryf word aan die gevaar wat deesdae bestaan as jy alleen in die natuur is. Uitwissing is aan die orde van die dag. Besoekers sal in die tentoonstelling eerste gekonfronteer word met die kragtige skildery van ’n renoster. Gutter vertel dat die skildery die kyker konfronteer met die onheilspellende idee van bedreigde spesies, waar die bedreigde bestaan van ’n lewende wese die stryd om oorleweing van ‘geheelgroep of klas op die rand van uitwissing impliseer’. “Vir my voel dit of boere net soos renosters afgemaai word, dit is nie eers meer nuus nie.”

Sy vertel dat die reeks werke getiteld Die doodsuur, handel oor die werklike invloed van vrees op ’n persoon se fisieke beeld. “Vrees is veral teenwoordig in die oë en ek probeer juis deur die distorsie van die gesig wys hoe dit die mens affekteer. Die gesig is beelddraend en in ’n oomblik van vrees en histerie vervorm of misvorm die gesig tot amper ’n onherkenbaarheid,” vertel sy. Gutter bou haar tentoonstelling rondom ’n installasie van ekspressiewe beelde van John Malkovich in die film Disgrace. Hierdie stilbeelde weerspieël Malkovich as hulpelose vader in die plaashuis se toilet, magteloos toegesluit, terwyl sy dogter verkrag word. Gutter wat in die omgewing van Brandfort grootgeword het, sê dat die platteland asook die landskap belangrike rolle in haar werk vertolk. “’n Mens kan tog nie iets skep wat buite jou ervaring is nie.”

Sy vertel dat sy ’n groot sensitiwiteit het vir die kwesbaarheid van mense op landelike gebiede het, maar dat sy nie skep om ’n politieke standpunt in te neem nie. “ ’n Mens kan mos maar politiek in alles sien en soms is dit seker nodig, maar ek skep nie met ’n politieke ondertoon of propoganda in gedagte nie.” Die byvoeging van animasie is ’n nuwe toevoeging tot die uitstalling. Hier word vrees op ’n heel ander wyse uitgebeeld. Gutter sê dat sy met die skep van hierdie werk die uitdagings wat saam met animasie gaan baie geniet het. The last of us kan tot 23 Junie in die kunsmuseum gesien word.

maricelle@centralmediagroup.co.za