Grootste lugskou nóg op Tempe-lughawe

0
Grootste lugskou nóg op Tempe-lughawe

“Dit is weer tyd is vir baie rook en geraas in die Bloemfonteinse lugruim. Mense moet nie dink dis donderweer nie. Dit is die magtige dreuning van vegvliegtuie.” Só beskryf Johan Laubscher, lugskou-organiseerder van die Bloemfontein-vliegklub, die eerste Chevrolet WarBirds Airshow sedert 2011, wat op 4 Mei op die Tempe-lughawe buite Bloemfontein plaasvind.

Volgens Laubscher is die lugskou met die hulp van Remax en die Suid-Afrikaanse Lugmag reeds goedgekeur en kan oud en jonk ’n skouspel soos min verwag. Heelwat vegvliegtuie sal in aksie wees soos die Black Widow Mirage, wat waarskynlik die meeste hoendervleis-opwinding sal verseker. Ander vliegtuie soos die bekende P51 Mustang, Sea Fury en Harvards tel onder vliegtuie wat sal deelneem.

Daar gaan ook uitstallings soos Harley-Davidsons, motorfiets- en Corvett-motorvertonings en vliegverwante uitstallings soos onder andere radiobeheerde vliegtuie wees. Toeskouers sal ook kan sien hoe ’n vliegtuig op ’n bewegende trok land.
Gunstelingvliegtuie van weleer soos die Vampire, Dakota, Tiger Moth en Chipmunk, sal op ’n statiese uitstalling besigtig kan word.
Om toeskouers op die hoogte te hou van gebeure sal die bekende Brian Emmenis deurgaans ingeligte kommentaar lewer.
Hope vermaak word aangebied soos ’n speelpark met glybaan en springkastele om die kinders besig te hou. Daar sal ook kosstalletjies en ’n biertuin wees.

Die lugskou begin om 10:00 op 4 Mei en hekke open reeds om 08:00. Dit duur tot 16:00 met vertonings wat deur die loop van die dag herhaal word.
Slegs vliegverwante uitstallings sal op die lugskou toegelaat word. Alle navrae oor uitstallings en kosstalletjies vir die lugskou kan gerig word aan Jolandi Myburg 082-773-9858, blackwhite@mweb.co.za en vliegverwante navrae aan Johan Laubscher by johan@skydivecentral.co.za

No posts to display