Dirk Kok – AfriForum, wat vroeër in die week gewaarsku het dat inwoners van Mangaung binne die volgende vier tot vyf maande sonder water kan sit, sê die Groothoek-dam is 94% leeg en het net genoeg water vir nog 199 dae.
Dié dam voorsien Thaba Nchu van water. AfriForum in die Vrystaat se CW Els sê die Rustfontein-dam, wat Bloemfontein, Thaba Nchu en Botshabelo bedien is 28% vol en het net genoeg water vir 235 dae.
Ingenieurs en waterkenners het vir AfriForum ’n verslag oor die voortslepende waterleweringsprobleme in Mangaung opgestel. Els sê AfriForum het ’n dringende vergadering met die Mangaung-metro-munisipaliteit gevra, maar moes hoor dit kan nie binne die volgende twee weke gebeur nie.
Hy sê waterbeperkings, wat reeds verlede maand deur die nasionale departement van waterwese aangekondig is, moet in werking gestel word. Die munisipaliteit gaan ook moet langtermyn oplossings vir die waterprobleme kry.