Groot skoonmaak kom in LHP

0
2070
Tobie Fourie

Inwoners van Langenhovenpark kan hulle gereed maak vir ‘n groot skoonmaakaksie in hul buurt. Tobie Fourie, wat onlangs aangestel as voorsitter van AfriForum se omgewingsake in Langenhovenpark, sê een van sy hoofdoelwitte vir die jaar is om die sypaadjies weer op standaard te bring en Langenhovenpark skoon te hou.

Volgens Fourie is die besluit deur AfriForum se bestuurders geneem en enigiemand wat wil deel wees van die skoonmaakprojek, is meer as welkom. Hulle wil graag ‘n verskil sien in Langenhovenpark.

Fourie vertel dat hulle hulp van die publiek af nodig het. AfriForum het reeds drie bossiekappers aangekoop. Enige skenkings vir brandstof of enige iets anders wat van toepassing is op die skoonmaakprojek, is baie welkom.

“Daar is soveel dinge wat regmaak kort, soos onder meer die vele slaggate,” sê hy. AfriForum het borge gekry vir swart sakke, handskoene, harke en vele ander dinge. Die heel eerste skoonmaaksessie begin 21 Maart 2020 om 08:00 oorkant John William’s Motors, by die Baptisekerk in Langenhovenpark.

“Die publiek is die belangrikste in dié projek. Sonder hulle sal dit nie moontlik wees nie. Ons het al die hulp wat ons kan kry nodig. Ons leuse is: Self doen is beter as niks doen,” voeg Fourie by.

Vir meer inligting kan Fourie geskakel of ‘n WhatsApp-boodskap gestuur word na 073-196-8887. “Mense met petrolgrassnyers of -bossiekappers is meer as welkom om hul gereedskap saam te bring en te kom help. Dit sal die werk baie ligter maak vir almal.”

Heidre Malgas
heidre@mahareng.co.za