Groot name op pad na Bloemfontein

0
307
Emo Adams

Suid-Afrikaners verenig om die braaivuur, kinders speel saam en geniet hulself, goeie kos en vermaak word deur die beste musikante in die land aangebied. Dit is wat jy kan verwag van vanjaar se Braaifees wat oor ‘n paar dae plaasvind.
Alhoewel die feesorganiseerders beoog om plaaslike kunstenaars te bemagtig, betrek hulle ook jaarliks van die grootste name in die vermaakbedryf om op te tree by die fees. Hierdie jaar sal een van Suid-Afrika se gesogste akteurs en sangers, Emo Adams, te sien wees. Adams, wat die vermaaklikheidsbedryf op die ouderdom van nege betree het as Broe’tjie in David Kramer en Taliep Petersen se District Six – The Musical, is geen vreemdeling vir die Rosestad nie.
By vanjaar se Braaifees wat op 15 Desember 2018 by die Clive Solomon-stadion in Heidedal plaasvind, sal plaaslike kunstenaars die geleentheid kry om met Emo en ander groot name op te tree. Dr. Nathan Bagarette, organiseerder van die fees, glo daarin dat musiek regoor die wêreld gebruik word om boosheid aan te spreek en help jong kunstenaars van Bloemfontein om hul talent te ontwikkel.

Early B

Een van Suid-Afrika se beste solo-rap-kunstenaars, Earlando Arrington Neil, beter bekend onder sy verhoognaam, Early B, sal optree. Hy domineer elke platform waar hy kom en sy unieke styl is moeilik om te dupliseer. Van mixtapes, onafhanklik vervaardigde musiek, maak die rapper van Bloemendal, Port Elizabeth, wat sy merk in die Afrikaanse musiekbedryf gemaak het, treffer na treffer.
Bloemfonteiners word genooi om hul familie en vriende te bring en die dag te geniet. – PIERCE VAN HEERDEN
pierce@mahareng.co.za