Groep wil Bloem se dieretuin red

0
1618
Die Bloemfonteinse dieretuin, wat vroeër ‘n gewilde plek vir gesinsuitstappies was, maar nou die toonbeeld van verwaarlosing is, word dalk binnekort weer tot sy eertydse glorie herstel. ‘n Groep Bloemfonteiners, insluitend lede van die gemeenskap, verskeie belangegroepe, asook die Mangaung Metro het onlangs hande gevat in ‘n poging om die dieretuin te red. FOTO: PIERCE VAN HEERDEN

“Dit gaan oor die natuur en om kinders en families in te trek en betrokke te maak – kom kuier, kom kyk en leer.” Dit is volgens Johan Snyman, ‘n koördineerder van die Zoo Nature Group, na aanleiding van die onlangse dieretuinskoonmaak deur die gemeenskap van Mangaung.

Bewustheid van rooi dataspesies, skaars diere, om te leer oor die erfenis van die dieretuin, teelprogramme en bowenal om diere wat beseer is te help en hulle weer in die natuur vry te laat. Volgens Snyman is dit net die beginpunt van waarom die bewaring van die stad se dieretuin belangrik is.

Die skoonmaak van die dieretuin is ‘n inisiatief wat ‘n groep mense, insluitend die gemeenskap en verskeie belanghebbendes, begin het in die hoop om die dieretuin in ere te herstel en weer oop te stel vir die publiek. “Ons maak eers skoon, netjies en reg. Dan bring ons die diere terug en vandaar sal die ontwikkeling begin,” sê hy.

Snyman sê ook dat hulle besig is om verhoudings met die munisipaliteit te vestig om te verseker dat die projek suksesvol is. “Ons moet permanensie kry en die gemeenskap moet verantwoordelikheid neem vir hierdie spasie en nie noodwending die munisipaliteit nie. Ons wil nie hê geskiedenis moet homself herhaal nie. En daarom moet die gemeenskap beheer neem.”

Lede van die gemeenskap sit handjie by om
die dieretuin in Bloemfontein skoon te maak.

Die groep maak elke Saterdag vanaf 07:00-16:00 skoon en hulle het alle Bloemfonteiners se hulp nodig. “Ons benodig mense wat verf, loodgieters, elektrisiëns, maatskappye wat vir ons alarmstelsels reg kan maak en moontlik nuwes installeer, mense wat beheer neem oor die werkswinkels, dierekenners, dan ook mense wat bereid is om die diere te versorg. Ons benodig van ‘n tuinier tot ‘n ontwikkelaar!” voeg Snyman by. “Ons het die belange van die diere op ons harte en ons moet oorneem as ‘n gemeenskap.”

Om betrokke te raak, tree in verbinding met Johan Snyman by 082 952 7520.

Justine Fortuin

justine@mahareng.co.za