Owen Kock
Bloemfontein. – Martin Groenewald van Humansdorp wat Saterdag sy been gebreek het in die wedstryd teen Grey-Kollege, word môre ontslaan en dit sal ‘n maand neem voor hy weer kan loop.
Dokters meen die 18-jarige van Grey High School in Port Elizabeth se gebreekte been sal 16 weke neem om te herstel, en dan lê rehabilitasie nog voor. Groenewald het vanoggend aan Courant in sy hospitaalbed gesê dit was ‘n fratsongeluk en hy sal die volgende vier maande seker maak hy herstel goed vir wanneer sy kontrak met die Blou Bulle begin. Dit was sy eerste groot rugbybesering sedert hy in graad een begin speel het.
“Toe dit gebeur was ek in pyn maar ek dink dit was meer van skok as enigiets anders. Die dokters het my goed bygestaan om alles gou afgehandel te kry. Dit is maar altyd ‘n harde wedstryd teen Grey Bloem en dit was nou die tweede keer die jaar. Hulle is ‘n baie trotse span en is tuis baie sterk. Ons het geweet dit sou weer ‘n harde wedstryd wees.
"Ek voel nou nie juis meer pyn nie aangesien ek op pynmedikasie is, maar môre gaan ek huis toe en dan is dit die lang pad na herstel,” het Groenewald uit sy hospitaalbed gesê.
Martin is een van drie broers. Sy ouer broer is tans in Stellenbosch en sy jonger boetie was in Bloemfontein ten tyde van sy besering.
“Dit was ‘n groot skok vir my ouers, want dit was die eerste keer dat een van hul kinders só ‘n groot besering kry, maar hulle was gelukkig hier om my te ondersteun. Rugby bly egter deel van my toekomsplanne, so ek gaan nie nou ophou speel nie.
“Ek het ‘n kontrak met die Blou Bulle geteken vir volgende jaar. Ek gaan volgende jaar weer rugby speel so ek moet nou die volgende vier maande uit die pad kry en hard werk vir volgende jaar,” het ‘n kalm Groenewald gesê.
Die Oos-Kapenaar het skertsend gesê hy het daaraan gedink om by die Kings (Oos-Kaapse franchise) te bly, maar dit was ‘n loopbaanbesluit om na die Bulle te skuif. Hy het ook jonger spelers moed in gepraat en benadruk dat dit ‘n fratsongeluk was, wat hy as dramaties beskryf het.