Servaas De Kock
Sosiale-medianetwerke word elke dag groter en met die vinnige groei van die internet, gebruik al meer mense daagliks hierdie vorm van kommunikasie. Dis egter ’n algemene wanopvatting dat sosiale media slegs vir sosiale interaksie gebruik word en nie vir sakedoeleindes aangewend kan word nie.
Medeling of “Word of Mouth”, wat ons beskou as een van die beste maniere om te bemark, is geskoei op sosiale interaksie. Sosiale media kan ongelooflike waarde toevoeg tot jou onderneming as dit reg aangewend word.
Hier volg drie maniere oor hoe om sosiale media in jou onderneming aan te wend.
1. Monitor en bestuur jou handelsmerk.
Dit is belangrik om te weet wat gebruikers oor jou handelsmerk sê.
Raak betrokke op forums gemik op jou industrie en die dominante sosiale media platforms. ’n Maklike manier om te monitor wat gesê word oor jou besigheid is om van Google Alerts gebruik te maak. Deelname op hierdie platforms kan ’n baie positiewe effek op jou handelsmerk hê.
2. Verhoog jou aanlynbewustheid. Net soos in die tradisionele omgewing, is dit belangrik om betrokke te raak op sosiale media platforms vir gebruikers om kontak te kan maak met jou handelsmerk. ’n Goeie voorbeeld om jou aanlyn-bewustheid te verhoog, is om byvoorbeeld ’n Facebook Fanpage vir jou onderneming te skep.
Sodoende kan gebruikers maklik relevante inligting bekom.
3. Skep jou eie aanlyngemeenskap. Indien jy gaan sit en wag dat iemand by jou webtuiste uitkom, gaan jy redelik lank wag, want daar is tans ongeveer 633 miljoen webtuistes aanlyn en die kompetisie raak elke dag strawwer.
Daar is ongelooflik baie aanlyn gemeenskappe, soos Facebook, Twitter, WOMF, Pinterest, ensovoorts – die uitdaging vir besigheid is om hierdie platforms te gebruik om ’n aanlyn-gemeenskap te vorm wat geïnteresseerd is in jou handelsmerk.