Griessel op pad na Frankryk

0
1276
David Griessel gaan van 1 Junie tot 1 Julie 2018 as kunstenaar-in-residensie in Frankryk woon.

David Griessel, ‘n professionele vryskutkunstenaar en illustreerder gaan van 1 Junie tot 1 Julie 2018 as kunstenaar-in-residensie in Frankryk woon.
Die geleentheid as kunstenaar-in-residensie word aan hom gebied deur die Draw International-instansie, in die dorpie Caylus, wat in die suide van Frankryk geleë is. Dis ‘n baie ou dorpie met geboue en kastele wat byna ‘n duisend jaar oud is. Griessel glo dat die Franse platteland en sy pragtige natuur perfek is om die kreatiewe brein te prikkel. “Daar is ook baie kunsgeleenthede in residensies in Parys, maar die stede maak my moeg. Ek bly op die oomblik in Kaapstad en die rumoer maak my mal! Daarom het ek eerder besluit om te ontsnap na ‘n rustige omgewing in Frankryk.”

‘n Sprokiesagtige werk deur die talentvolle tekenaar, David Griessel.

Die meeste kunstenaars doen kunsresidensie om die internasionale mark te betree. Griessel gaan vir ‘n maand in Draw International se studio’s werk aan ‘n reeks werke waarvan hy dan ‘n uitstalling by Draw International se galery gaan hou. Dit sal ook Griessel se eerste internasionale uitstalling wees. Draw Internasional fokus grootliks daarop om ontwikkelwnde en gevestigde kunstenaars ruimte te bied om hul kunstenaarskap te bevorder en in vrede aan projekte te werk.
”Ek gaan vir seker ook die tyd gebruik om ‘n reeks werke en nuwe temas te ontwikkel vir uitstallings in Suid-Afrika. Ek gaan hoofsaaklik fokus op sketsboeke en om hierdie boeke op sigself uit te stal as kunswerke. Ek wil beslis ook eksperimenteer met nuwe mediums en nuwe maniere van werk. As ek in Suid-Afrika is, bring ek baie tyd deur om werke te maak om net te oorleef, soos byvoorbeeld illustrasies, opdragte en kommersiële werk. Ek sien ook vreeslik baie daarnauit om kunswerke te maak waar ek meer kreatiewe vryheid het.”
Griessel sê ook hy dink sy kuns het begin stagneer, so hy voel dit is belangrik om sy horisonne te verbreed deur in kontak te kom met ‘n internasionale kunsmark. Hy wil kyk of hy jaarliks dalk twee residensies kan doen.

Zilke Prinsloo
zilke@mahareng.co.za