Alzane Narrain
Die koue is om die draai en dit is tyd om jouself teen die doodsgreep van wintergriep te stut. Griep is die winter se groot toets en kan jou tref wanneer jy dit die minste verwag, byna soos ’n dief in die nag. Volgens dr. Elizna van Aswegen, hoof van Mediclicic se noodeenheid, is die goeie nuus dat dit tans nog te vroeg is vir influenza (griep). “Die beste tyd om die griepinspuiting te kry is nou. Jou liggaam het dan tyd om weerstand op te bou,” sê Van Aswegen. Influenza is ’n hoogs aansteeklike siekte. Tekens en simptome van griep is lyfseer, koors, hoofpyn, en dan gewoonlik ook loopneus, keelseer of hoes. Mense wat griep het dra die virus in hul neus en keel rond en wanneer hulle praat, hoes, nies of asemhaal, versprei virusse in die lug rondom hulle.
André Toit, apteker by Medibloem Pharmacy, sê dat ’n klomp mense reeds by die apteek medisyne gekoop het vir verkoues, hoewel die griepvirus nog nie sy verskyning gemaak het nie en hulle wag vir die eerste koue. “Ek beveel graag simptomatiese medisyne aan; medisyne wat dus die simptome verlig asook natuurlike medisyne wat bv. echinacea bevat. Hierdie medisyne verhoog mens se virale en bakteriële lading wat gevolglik die duur van die siekte verkort,” verduidelik hy. Met behulp van griepentstof het ’n mens bykans ‘n 80% kans om nie griep te kry nie. Dit is dus raadsaam om dié vaksine betyds te kry, meen Du Toit. Kry jou griepinspuiting, gebruik produkte wat echinacea bevat en trek lekker warm aan dié winter.
alzane@centralmediagroup.co.za