Griekwastad: Wat lê voor?

0
588

LANI FOUCHÉ

Raaisels hoop op in die opspraakwekkende Griekwastad-driedubbele moordverhoor. Die 17-jarige moodverdagte sou verlede week in die hooggeregshof in Kimberley hoor wat sy lot is, waarna verskeie familielede en lede van die gemeenskap uitgesien het, maar dit is weer eens uitgestel nadat die saak ‘n onverwagse wending geneem het. Die seun en sy voog het twee dae voor die beplande uitspraak hul regspan se mandaat beëindig en ‘n nuwe prokureur, Riaan Bode van Engelsman Magabane Prokureurs, aangestel.

Dit is nou onseker wat die nuwe verdedigingspan se bewegings gaan wees – sal hulle vra dat die saak heropen word, of dat slotbetoë oorgedoen word?

Die seun word daarvan aangekla dat hy Marthella Steenkamp in April verlede jaar verkrag het, en daarna vir haar, haar pa Deon en ma Christel vermoor het om dié seksuele misdryf te verdoesel. Hy word ook van regsverydeling aangekla omdat hy glo die polisie met opset op ‘n dwaalspoor probeer lei het.

“Om eerlik te wees, ek is uiters ontevrede met die aansoek vir ‘n uitstel wat ter elfder uur gebring is. Dit is die hof se verantwoordelikheid om in die belang van almal op te tree en te sorg dat die regstelsel nie misbruik word nie,” het regterpresident Frans Kgomo gesê kort nadat Bode aansoek gedoen het vir ‘n soveelste uitstel in die saak.

Adv. Hannes Cloete, vir die staat, het dié aansoek as ‘n siniese poging om die hof te manupileer bestempel. “Daar is regdeur die afgelope 21 maande na die applikant se regte omgesien en hy het genoegsaam tyd gehad om met sy regspan te konsulteer oor elke aspek. Waarom nou die aansoek in so ‘n laat stadium in die verhoor?”

Bode het aangevoer dat die seun en sy voog onoorkombare verskille met hul respan ervaar het wat ‘n onomkeerbare punt ná die slotbetoë bereik het.

‘n Familielid van Deon Steenkamp, wat anoniem wil bly, sê haar gesin en Deon se ma, Bettie Steenkamp, is gefrustreerd met nuus van dié uitstel. “Ons het gehoop om finaliteit te kry. Ons wil net hê geregtigheid moet geskied. ‘n Hele gesin kan nie net vanself uitgewis word nie – iemand het dit gedoen.”

Sy sê sommige familielede se gevoelens jeens die seun is van ‘n gemengde aard. “Ons weet nie of ons hom moet jammer kry of vir hom moet kwaad wees nie. Ons is pal onder stres, ons soek nou afsluiting.”

Die saak is weer vir 18 tot 28 Maart 2014 op die rol geplaas.