Griekwastad moordverhoor vandag voort gesit

0
551

Marine Jacobs

Kimberley. – Die verhoor van die minderjarige wat tereg staan in die Griekwastad trippelmoord sal vandag in die Noord-Kaapse Hooggeregshof hervat.

Die 16-jarige seun word aangekla van die moorde op Deon, Christel en Marthella Steenkamp wat op Goeie Vrydag verlede jaar op hul plaas Naauwhoek buite Griekwastad doodgeskiet is. Hy staar ook aanklagte van verkragting en regsverydeling in die gesig.

Die gebeure van die nag van die moorde het verlede week tydens die verhoor geleidelik ontvou toe verskeie lede van die Griekwastad-gemeenskap as staatsgetuies geroep is.

Advokaat Willem Coetzee wat die seun verdedig het verlede week verskeie bewerings wat deur getuies in die hof gemaak is, ontken. Dit het ‘n gesprek ingesluit wat die voorsitter van landelike veiligheids en veediefstal komitee Joe Scholtz, beweer hy het in Februarie verlede jaar met die seun gehad.

Volgens Scholtz het die seun aan hom gesê hy wil nie in Bloemfontein skoolgaan nie, en wil eerder op Douglas of Kimberley skoolgaan. Scholtz het gesê die seun het gesê sy ma dwing hom om in die vooraanstaande skool in Bloemfontein te wees.

Alhoewel dit nog nie duidelik is wie vandag as getuie geroep sal word nie, is die vermoede dat die hoofondersoekbeampte Dirk de Waal, hierdie week sy getuienis sal lewer.