Sabrina Dean en Lani Fouche
Kimberley. – Finale betooghoofde sal na verwagting vandag in die Griekwastad-moordsaak in die Noord-Kaapse hooggeregshof aangehoor word, waarna uitspraak sal volg.
Dit kom nadat regterpresident Frans Kgomo verlede week ‘n aansoek van die minderjarige beskuldigde se nuwe regsverteenwoordiger, Riaan Bode, om die verdediging se saak te heropen, van die hand gewys het. Bode is in Desember verlede jaar aangestel nadat die seun sy regspan in die pad gesteek het weens ‘n sogenaamde onoorkombare vertrouensbreuk.
Bode het verlede week redes aangevoer waarom die saak heropen moet word. Die redes het gehandel oor ‘n derde patologie-deskundige wat ‘n verslag oor die beweerde seksuele beserings op Marthella Steenkamp saamgestel het, maar nie daaroor in die hof getuig het nie.
Bode wou die deskundige roep om te getuig omdat dit van die ander twee patoloë se getuienis verskil. Die seun word daarvan verdink dat hy Deon, Christel en Marthella Steenkamp op hul plaas Naauwhoek in April 2012 vermoor en vir Marthella verkrag het.