Grey wen tennis en muurbal by St Stithians

0
369
Die St Stithiansfees-tenniskampioene is van links Naresh Mahabeer (afrigter), Lieb du Raan, Zirk de Klerk, Louis Grobbelaar, Jason Schimper, Muller Esterhuizen, Stefan Nel en Marnus van Wyk (spanbestuurder).

Grey-kollege het oor die Paasnaweek hul stemme dik gemaak in tennis en muurbal tydens die St Stithians Easter Sport Festival in Sandton, Johannesburg.

Die spogskool van die Rosestad was onoorwonne tydens die muurbal en het sommer op ‘n hoë noot begin deur die gasheerskool, St Stitihians, met 13-10 te troef.

Volgende het hulle Westville Boys’ High van Durban met 15-8 laat les opsê voordat hulle Parktown Boys’ High (Johannesburg) heeltemal met 18-2 oorheers het. Hulle het ook vir SACS (Kaapstad) met 12-9 geklop en Helpmekaar Kollege (Johannesburg) met 17-3 pakslae gegee.

Die tennis was net so goed vir die manne van Bloemfontein en hulle was óók onoorwone tydens die toernooi.

Hul veldtog het met ‘n naelskraapse oorwinning van 5-4 teen Pretoria Boys’ High School begin, voordat hulle St Benedicts van Bedfordview met 9-0 afgeransel het. Die Hoërskool Rustenburg het ietwat weerstand gebied maar Grey was te sterk het met 6-3 geseëvier.

In die halfeindronde het hulle maklik met Clifton School van Durban afgereken met ‘n 5-1-oowinning om hul plek in die eindtstryd teen die gasheer, St Stithians, te bespreek. Die eindstryd was ‘n taai affêre maar Grey kon daarin slaag om St Stithians met 5-4 te klop om die trofee vir die eerste keer in dié fees omhoog te hou. – MORGAN PIEK