Grey wen Kersney tennistoernooi

0
668
Mark Steenbok

Die eerste tennisspan van Grey-kollege het die naweek welverdiend weggestap met die Kersney-tennistitel op die toernooi in Botha’s Hill, KwaZulu-Natal.

Die seuns van Bloemfontein het verlede jaar in die tweedeplek geëindig, maar het hierdie keer seker gemaak van die titel toe hulle Paul Roos-gimnasium met 5-4 getroef het in hul laaste wedstryd.

Die Grey-seuns het reeds vroeg hul stempel afgedruk by die 20ste weergawe van die toernooi .

Hulle het op die eerste dag met onder meer Kersney-kollege (9-0), en die Afrikaanse Hoër-seunskool (8-1) afgereken.

Hulle het hul goeie vorm voortgesit op die tweede dag (Saterdag) met oorwinnings oor Pretoria Boys’ High (5-4) en Clifton (9-0) om sodoende teen Paul Roos, wat ook die suksesvolste tennisspan by die toernooi is, in die laaste wedstryd te speel vir die titel.

Naresh Mahabeer, afrigter van Grey-kollege, het aan Courant vertel dat die kompetisie weer eens straf was.

“Ja, ons is bly oor die oorwining, maar die kompetisie was soos in die verlede weer straf siende dat ons teen van die top-tennisskole in die land gespeel het.”

Phillip Henning is na die afloop van die toernooi as die beste speler aangewys, Kukutla Motlojoa is in sy posisie (derde) as die beste aangewys en Joubert Klopper as sesde beste speler.