Grey steeds onoorwonne

0
536
Die Grey-kollege 1ste XV se agterlyn-generaal, FC du Plessis, het met 'n driekuns van drieë teen Hoër Jongenskool Paarl (Boishaai) bewys dat hy 'n wedstrydwenner is. Hy het vir 'n tweede agtereenvolgende wedstryd die Speler van die Wedstryd-toekenning ontvang. FOTO: MORGAN PIEK

Grey-kollege se eerste rugbyspan het Saterdag in Bloemfontein weer hul spiere gebult en bevestig dat hulle tans die toprugbyskool in die land is deur Hoër Jongenskool Paarl 43-24 te verslaan.

Boishaai het goed gelyk in die eerste helfte, maar Grey is bekend daarvoor dat hulle in die tweede helfte terugkom van die afdraande, en dit is waar hulle die besoekers van die Paarl laat les opsê het.

Die res van die skool se spanne het ook besonders goed gevaar en uit die 26 wedstryde van die dag was dit slegs die o.14F, o.15F, o.16D en E, o.19 3de (Peaches) en o.19 8ste (Camels) wat die knie gebuig het, terwyl die o.19 10de (Metals) gelykop gespeel het.

Selfs die Grey Old Boys-span het Vrydagmiddag Boishaai Old Boys met 35-0 pakslae gegee.

Komende Saterdag gaan nog ‘n strawwe teenstander en ‘ou vyand’, Afrikaanse Hoër Seunskool (Affies), die Rosestad besoek.

Affies sal bitter gevaarlik wees siende dat hulle onlangs vir die eerste keer teen King Edward VII (KES) en Westville Boys’ High vasgeval het.

Die ‘Wit Bulle’ het ook drie sterspelers vir die res van die seisoen op die krukkerlys, terwyl hulle nog sweet oor die beskikbaarheid van drie staatmakers vir Saterdag se wedstryd.

Die eerste spanne pak mekaar Saterdagmiddag om 14:00. – MORGAN PIEK

Die naweek se program vir Grey teen Affies.