Grey sal vreeslose rugby moet speel

0
139
Diégo Lottering van Grey-Kollege word plat getrek deur twee Paarl Gymnasium verdedigers. FOTO: FRANS LOMBARD/ ACTIONPIX

Skolerugby regoor Suid-Afrika het oor die afgelope naweek in alle erns hervat ná nagenoeg 400 dae sedert die seuns laas in amptelike wedstryde meegeding het.

Die toernooi wat seker die meeste aandag geniet het, was die Hoërskool Monument in Krugersdorp se Eeufees-toernooi.

Die wedstryd van die toernooi het sommer op dag een plaasgevind toe Paarl Gymnasium naelskraaps oor Grey-kollege van Bloemfontein geseëvier het met 18-16.

Die uitslag van dié titaniese stryd was sonder twyfel regverdig, wat as bewys dien dat dié twee spanne vanjaar dopgehou kan word.

Die span van Paarl het slegs vir vyfde keer oor die afgelope dekade teen die Grey-manne te staan gekom en dit was hul eerste sege sedert 2012 toe die Springbokke se Wêreldbekerwenner, Handré Pollard, die kragmeting met sy skopstewel oorheers het vir ‘n 45-29 oorwinning. Grey het in 2014, 2017 en 2019 koning gekraai in dié kragmeting.

Vir Grey was dit hul eerste nederlaag in bykans vier jaar toe hulle naelskraaps teen Selborne College in Oos-Londen met 20-19 vageval het.

Die gewilde Noord-Suid toernooi in Pretoria het Dinsdag afgeskop en dit was ‘n geleentheid vir die Bloemfonteiners om sake reg te stel. Grey het teen Hoërskool Menlopark (Pretoria) gespeel en sal ook teen Hoërskool E.G. Jansen (Boksburg) te staan kom. Albei hierdie skole sal taai teenstanders wees, maar dit is veilig om te sê dat hulle nie heeltemal in dieselfde klas as Paarl Gym is nie. Menlopark is egter ‘n span wat sonder twyfel hul man kan staan en het al van tyd tot tyd vir ‘n opskudding of twee gesorg.

Vreeslose rugby sal egter deur Grey gespeel moet word indien hulle so gou weer op die wenpad wil kom en hul seisoen behoorlik op dreef kry.

Die breier van Grey, Jannie Geldenhuys, wat ‘n strawwe vuurdoop beleef het in wat ook sy eerste wedstryd as afrigter was, het aan Bloemfontein Courant gesê dat om vreesloos te wees, die grootste les is wat hulle as span uit dié nederlaag geleer het.

“Die grootste les wat ons hieruit geleer het, is dat ons vreesloos moet wees. Ons kan nie ingaan en toelaat dat vrees ‘n rol speel en dan in ‘n mate teen onsself speel nie.

“Ons sien baie uit na die Noord-Suid-toernooi en ons wil die ‘Grey brand’ weer terugbring. Ons wil vreesloos speel, met vreugde, en weer die lekkerte terugbring in Grey-rugby.

“Ons kan nie wag om dit weer reg te stel nie.”

Grey het Woensdagaand teen Menlopark te staan gekom en die kragmeting met 51-19 gewen. Grey pak E.G. Jansen Saterdagmiddag om 16:30. – MORGAN PIEK