Die swemmers van Grey Kollege het op die Vrystaatse Interhoër-gala in hul sleurstroom gelaat deur meeste medaljes en ook die top-eerbewyse te verower.
Die Grey-swemspan het met 29 brons-, 21 silwer- en 26 goue medaljes weggestap en daarby is Zane Waddell en Cullen Thomas onderskeidelik as die Senior en Junior Victor Ludorum gekroon.
Waddell het goues in die 50- en 100-kruipslag, 50- en 100-rugslag en 50-vlinderslag losgeswem, terwyl Thomas koning gekraai het in die 50-vlinderslag, 50-kruipslag, 50- en 100rugslag en 200-individuele wisselslag.
Grey se swemmers het veral in die aflosse uitgeblink en daarmee die punte behoorlik opgestapel om met ’n totaal van 828 punte te seëvier. In van die aflosse het Grey se spanne die eerste en tweede plekke ingeneem.
Die puntetotaal kon heelwat hoër gewees het as al die aflosse plaasgevind het. Weens weerlig en reën het drie van die aflosse nie plaasgevind nie.
Grey wen ook die spankompetisiebekers vir al die ouderdomsgroepe:
19 en onder – 232 punte – eerste van die tien Vrystaatskole wat deelgeneem het.
16 en onder – 293 punte – eerste van die nege deelnemende skole.
14 en onder – 303 punte – eerste van die sewe deelnemende skole.