Grey-musiekfees lok weer groot name

0
385
Leerders van Grey-kollege sing met hart en siel tydens verlede jaar se fees. FOTO: NIEL LOMBAARD

Die Grey-kollege-musiekfees het oor die jare bekende kunstenaars na Bloemfontein gelok, soos Caroline-Grace Brüssow, Katlego Maboe, Connell Cruise, Elvis Blue, Refentse, Corlea, Laurika Rauch, Theuns Jordaan, Karen Zoid, Jennifer Jones, Elvis Blue en vele ander.
Vanjaar sit die musiekfees dié tradisie voort deur Chris Chameleon, Tarryn Lamb en oud-Grey, Wilhelm Lichtenberg, as gaskunstenaars te hê.

Hierdie enig-in-sy-soort skouspel vind vanjaar op 23 en 24 Augustus in die Sand du Plessis-teater in Bloemfontein plaas onder die tema “Simunye – We Are One”.

Hattingh Davel, die direkteur van musiek by Grey-kollege, sê die tema simboliseer en vier die krag en die waarde van eenheid binne ‘n multidimensionele en multikulturele samelewing.

Deon Scheepers, skoolhoof, moedig teatergangers aan om elke oomblik van die ongelooflike vertoning te kom geniet.

“Vanjaar se musiekfees toon weer eens dat daar soveel vermag kan word wanneer die Grey-seuns en -personeel saamstaan. Dit is, in baie opsigte, die hoogtepunt op ons skoolkalender en nie net oor die vertonings wat van hoogstaande gehalte getuig nie, maar ook omdat die musiekfees die eenheidsgevoel en een-wees onder die Grey-gemeenskap so treffend uitbeeld.

Sou die musiek aan die hartsnare pluk of die geheue, emosies of gees roer, weet ons dit was ‘n sukses!” sê Scheepers.

Kaartjies is beskikbaar by Pacofs. Vir navrae, kontak gerus die skool by 051-444-1513.

‘n Gelukkige Bloemfontein Courant-leser kan ‘n stel van twee kaartjies na die musiekfees wen deur slegs die volgende vraag te beantwoord: Waar word die Grey-kollege-musiekfees aangebied? SMS of WhatsApp jou antwoord, naam en telefoonnommer na 083 231 1131 voor middernag op Donderdag 22 Augustus 2019. Die wenner sal na 08:00 op Vrydag 23 Augustus 2019 in kennis gestel word.

info@bloemfonteincourant.co.za